On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Debat oor rooivleis vlam weer op ná voedingsverslag

───   ISABEL VAN TONDER 12:10 Mon, 27 Oct 2025

Debat oor rooivleis vlam weer op ná voedingsverslag | News Article
Die belangrikheid van rooivleis as voedsel ontketen weer ’n debat. Foto: Pexel.com

Die herbekendstelling van die EAT-Lancet-kommissie se Planetary Health Diet (PHD) laat wêreldwyd die debat opvlam oor die rol van rooivleis in ’n volhoubare en gesonde dieet.

Red Meat Industry Insights & Services South Africa (RMIS) sê hy neem kennis van die verslag van dié internasionale wetenskaplike kommissie wat fokus op die verband tussen gesonde voeding, volhoubare landbou en die gesondheid van die planeet, asook van die publikasie se toenemende invloed in beleidbesprekings. RMIS maan egter teen “eensydige en vae aanbevelings wat werklikhede, voedingsbehoeftes en ekonomiese kontekste ignoreer”.

In dié verslag word grootliks dieselfde voedingsriglyne as in 2019 herhaal en ’n byna veganistiese dieet aanbeveel van slegs een porsie rooivleis per week. Hoewel dit aangebied word as ’n reaksie op klimaat- en gesondheidsuitdagings, word in die verslag erken dat die modellering “uitsluitlik gebaseer is op die uitwerking van dieet op menslike gesondheid, nie op omgewingskriteria nie”.

Die voorgestelde raamwerk impliseer ’n 50%-afname in vee wêreldwyd teen 2050 en ’n 26%-vermindering in herkouergetalle vergeleke met 2020.

Model wek kommer

Sulke modelle wek geldige bekommernisse by belanghebbendes oor voedselsekerheid, die plattelandse lewensbestaan en die bekostigbaarheid van voedsame kos, sê RMIS. Dit geld veral Afrika, waar voedsel van dierlike oorsprong ’n belangrike rol speel in die bekamping van mikrovoedingstekorte en kindervoedingstekorte.

In onafhanklike ontledings van die oorspronklike verslag is bevind 71% van wetenskaplike publikasies wat daarna verwys, bevat minstens een kritiese opmerking daaroor, sê RMIS. Die algemeenste is onvoldoende oorweging van maatskaplik-ekonomiese en kulturele faktore.

In meer onlangse studies word gewaarsku die drastiese vermindering van voedsel van dierlike oorsprong kan bestaande tekortkominge in mikrovoedingstowwe en proteïen vererger. 

‘Rooivleis bly ’n bekostigbare, toeganklike en biobeskikbare bron van noodsaaklike voedingstowwe’

In Suid-Afrika en ander lae- tot middelinkomstelande bly rooivleis ’n bekostigbare, toeganklike en biobeskikbare bron van noodsaaklike voedingstowwe soos yster, sink en vitamien B12, veral vir vroue en kinders, sê RMIS.

RMIS sê hy daarom aanhou deelneem aan internasionale gesprekke om te verseker dat die Suid-Afrikaanse rooivleissektor se stem gehoor word, saam met betroubare plaaslike navorsing soos die werk van die Noakes-stigting oor rooivleis en cholesterol.

RMIS bevestig ook sy verbintenis tot die beginsels van volhoubaarheid, dierewelsyn en menslike voeding, ingevolge die Red Meat Industry Strategy 2030, wat strook met die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte.

“Voedingsveranderings moet regverdig, uitvoerbaar en plaaslik gerig wees. Suid-Afrikaanse produsente, verbruikers en beleidmakers verdien bewysgebaseerde leiding, nie ideologiese voorskrifte nie,” sê Dewald Olivier, RMIS se uitvoerende hoof.

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.