Agriculture
Kameelperdstasie by Amanzi: Langnekdroom vorder danksy navorsing─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 03 Nov 2025
’n Groot droom het waar geword met die opening van die wêreld se eerste kameelperdnavorsingstasie by Amanzi naby Bloemfontein.
Afrika se kameelperdbevolking het die afgelope drie dekades met byna 40% afgeneem, wat dié diere se bewaring ’n saak van dringendheid maak. Bedreigings soos habitatverlies, stropery, klimaatsverandering en inteling in klein, geïsoleerde bevolkings plaas steeds druk op hul oorlewing.
Sonder ingryping kan kameelperde stil-stil verdwyn – ’n tragedie vir biodiversiteit sowel as Afrika se erfenis.
Agter elke suksesvolle bewaringstorie is sterk navorsing. Wetenskaplikes aan die Universiteit van die Vrystaat is wêreldleiers in die bestudering van kameelperde, hul anatomie en voortplanting. Navorsing behels onder meer bloeddrukhantering, in vitro-embriovervaardiging en spermbewaring. So ontsluit navorsers die geheime van kameelperdbewaring ter wille van dié diere se oorlewing.
Die navorsing is egter nie ’n klein projek met enkele rolspelers nie; amper 17 instelling en talle studente plaaslik en internasionaal is betrokke. En alles het begin met planne wat beraam moes word om ’n moniteringshalsband te ontwerp vir die kameelperdnek, vertel prof. Francois Deacon van die UV se departement vee-, wild- en weidingkunde.
“Dis ’n absoluut unieke voorreg om te sê ons is die eerste in die wêreld met so ’n navorsingstasie. Danksy Amanzi-reservaat kan ons nou bomas bou waar kameelperde in drukgange ‘gesonar’ kan word en embriospoelings en kunsmatige inseminasie gedoen word. Die geriewe is oop vir die publiek en kinders sal eersdaags kan ervaar hoe kameelperde uit hul hand vreet,” sê Deacon.
Navorsing het ook gelei tot reproduksiegebiede. Die jongste tegnologie word ingespan, in samewerking met Ramsen en Absolute Genetics. Die strewe is om ’n kameelperdkalfie deur middel van kunsmatige inseminasie in die lewe te bring, wat die hoogtepunt sal wees.

Prof. Francois Deacon en sy span sien om na ’n kameelperd se welstand. Foto: Francois Deacon
Met verfynde prosedures kan kameelperde internasionaal geteel word tot subpopulasies om uitsterwing af te weer.
“Daar is soveel mense en tegnologie betrokke by die hele proses, maar dis lekker. Reproduksie, gedragstudies, genetika, bloedtoetse, anatomie, fisiologie, hul velle wat termoreguleer, selfs hul asemhaling word gemoniteer – letterlik van kop tot tone word navorsing gedoen,” vertel Deacon.
“Elke buis bloed gaan na vyf verskillende laboratoriums in die land. Hierdie navorsing het soveel potensiaal. Ons moet jong kinders stimuleer om nuuskierig te wees oor die natuur. My rol is hoofsaaklik om die jeug en die publiek lief te maak vir die natuur.”
Eindelik is die ideaal dat nuwe genetika internasionaal danksy die projek genereer sal word. “Sulke navorsing kan uiteindelik vir alle bedreigde spesies waardevol wees. Ons moet elkeen betrokke raak en ons moet elkeen ’n verskil maak.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Isabel van Tonder cvs
