Click on the warning image to view this post
Agriculture
Knopvelsiekte bly verwoestend onder vee─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 20 Nov 2025
Knopvelsiekte bly een van die ekonomies mees verwoestende virussiektes onder vee in Suid-Afrika.
Veral beeste word aangetas deur dié virussiekte. Weens klimaatverandering, ’n groter voorkoms van muggies en toenemende veebeweging het die siekte die laaste paar seisoene skerp toegeneem.
Knopvelsiekte word gekenmerk deur stywe, harde knoppe aan die vel – selfs honderde oor die dier se liggaam – velletsels, wat later ’n kors kan vorm en etter dra, koors, geswelde limfknope, verminderde melkproduksie by suiwelbeeste, gedempte eetlus, gewigsverlies en swak groei by jong beeste.
“Knopvelsiekte word meestal oorgedra deur bytende insekte of meganiese metodes, wanneer ’n trop beeste met dieselfde naald gespuit word,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveeaarts in Bloemfontein.
“Koors begin gewoonlik twee tot vier weke ná blootstelling aan die virus. Die oë sal traan, meer speeksel word afgeskei en die kliere onder die vel sal vergroot. Die koors sal dan daal. In die tweede fase van koors, vier tot tien dae later, sal die knoppies begin uitkom.”
Die knoppies kom oral oor die dier voor, sê Bester-Cloete. “Dit lei ook tot swelling in die bene, want die vloeistof onder die vel sak af na laer dele toe. Stukkies vel kan afval, want dan weer lei tot oop wonde wat infeksie kan kry.”
Sy vertel velletsels aan die ooglede, spene, skrotum en soms dieper in die mond, in die slukderm en die res van die spysverteringskanaal is “ ’n groot probleem”.
Afgekeur by slagpale
Diere verloor merkbaar gewig, melkproduksie neem skerp af en dragtige diere sal fetusse aborteer. Die letsels lei tot afkeuring by die slagpale. As die siekte die spysverteringstelsel binnedring, kan dit tot die dood lei.
Soos in die geval van bloutong kan dié siekte nie direk behandel word nie. Die simptome kan wel behandel word. Die dier word so gemaklik moontlik gehou.
“Ek hou daarvan om penisillien in te spuit om velontsteking te voorkom en pynstillers en anti-inflammatoriese middels te gee,” sê Bester-Cloete. “Dit bring die koors af en die dier voel dadelik beter.”

Knopvelsiekte kan voorkom word deur behoorlike inenting. Foto: Hanri Bester-Cloete
Entstowwe is hoogs doeltreffend. Sy beveel aan dat boere hul diere inent. “Dis ’n lewende entstof, wat wel veilig op dragtige diere gebruik kan word. Gemiddeld tien dae ná inenting word immuniteit opgebou.”
Sy maan teen boererate, wat sommige boere gebruik, soos Dettol of ander middels wat onder die dier se vel ingespuit word. “Moet dit asseblief nie doen nie,” vra sy. “Behalwe dat dit erg brand en irritasie vir die dier veroorsaak, moet die dier se liggaam ook daarteen weerstand bied, en daar is geen bewyse dat dit die virus opklaar nie.”
Plaas jong diere op ’n goeie inentingsprogram en hou dit jaarliks by, is haar raad. Dit ruim bekommernisse uit die weg oor entstof wat onverkrygbaar is.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

