Agriculture
Vrystater genooi na wêreld se strafste perde-uithourit in Mongolië─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 08 Jan 2026
Rangna Roux (28) van Vrede is genooi om vanjaar deel te neem aan die wêreld se taaiste perde-uithourit, wat ruiter en perd tot die uiterste toe beproef. Dit vind van 5 tot 14 Augustus plaas in die steppe van Mongolië, tussen Rusland en China.
Rangna het, vandat haar pa oorlede is, deelgeneem aan perdrylesse en ook ander kompetisies. Een daarvan was die Rocket Race aan die Wildekus waarin sy tweede geëindig het.
Die Mongol Derby is geïnspireer deur Gengis Khan, ’n Mongoolse kryger en heerser van die Mongoolse ryk. Dit strek oor 1 000 km en is die langste en mees uitmergelende uithourit ter wêreld.
“Elke 35 km word jou perd vervang deur ’n ander perd, wat eintlik wilde perde is. Die perde word deur die inwoners halfpad mak gemaak voor die resies,” vertel Roux.
“Die roete toets nie net jou ryvermoëns nie, maar ook jou uithouvermoë. Dit is ’n lang afstand, ’n vreemde land, vreemde taal en kultuur.”
Die roete is nie gemerk nie, en deelnemers moet sonder enige gerieflike kospakkies of beddens om in te slaap klaarkom. Roux vertel haar ma bid deurentyd vir haar, en sy neem genoeg pynpille saam om die uithourit hopelik pynloos te voltooi. Sy glo ook daaraan om die rit dag vir dag aan te pak en te voltooi.
Op die roete sal veeartse die perde gereeld ondersoek. Die deelnemers en die aanbieders gee voorkeur aan die diere se welstand.

Rangna Roux van Vrede, wat gaan deelneem aan die strafste perde-uithourit ter wêreld. Foto: Rangna Roux
Die omgewing is wild en afgeleë, en die basiese beginsels van oorlewing word tot die uiterste getoets in ’n onvoorspelbare gebied met uiterste dag- en nagtemperature. Die terrein strek oor passe, valleie, riviere, oorsteekplekke, vleilande, sandduine, grasvlaktes en klipperige grond.
Roux se boodskap aan voornemende uithouritdeelnemers? “Moenie wag vir die regte tyd nie, want dan gaan jy dit nooit doen nie. Partykeer moet ’n mens net oë toeknyp en spring en daarby glo, hoop en vertrou dat dit sal gebeur. Ek glo dat die onmoontlike wel moontlik is.”
Maak kontak met Rangna Roux op Facebook vir nadere besonderhede. Om haar geldelik te ondersteun, besoek haar Back-a-Buddy-blad.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

