On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Bennie van Zyl van TLU SA sien uit na rol in BKS-raad

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Fri, 23 Jan 2026

Bennie van Zyl van TLU SA sien uit na rol in BKS-raad | News Article
Bennie van Zyl vorm deel van die BKS-bedryfskoordineringsraad. Foto: Sustainability Summit

TLU SA verwelkom die insluiting van sy hoofbestuurder in die BKS-bedryfskoördineringsraad.

John Steenhuisen, minister van landbou, het die raad aangestel om ’n aktiewe en gekoördineerde rol uit die bedryf te speel in die implementering van die nasionale strategie om bek-en-klouseer te beheer en uiteindelik uit te wis. Die stratege sluit entstofverspreiding, naspeurbaarheid, bewegingsbeheer en operasionale gereedheid in.

Bennie van Zyl het voltyds met beeste geboer voordat hy die leisels opgeneem het as hoofbestuurder by TLU SA. Die organisasie meen sy aanstelling is ’n “duidelike erkenning van die rol wat georganiseerde landbou speel, asook van sy jare lange ervaring en betrokkenheid by die praktiese realiteite waarmee veeboere daagliks gekonfronteer word”.

Bek-en-klouseer het verwoestende gevolge vir boere en voedselsekerheid. Foto: Pexel

Van Zyl sê bek-en-klouseer is nie ’n teoretiese probleem nie. “Dit het werklike, verwoestende gevolge vir boere, vir landelike ekonomieë en vir Suid-Afrika se voedselsekerheid.

“Dit is noodsaaklik dat besluite wat geneem word, gegrond is op wat werklik op plaasvlak gebeur. Die bedryf moet nie net geraadpleeg word nie, maar aktief deel wees van oplossings.”

TLU SA beklemtoon reeds ’n geruime tyd dat die huidige BKS-situasie boere se vermoë om volhoubaar te produseer ernstig kniehalter. Bewegingsbeperkings, markverliese en onsekerheid het ’n regstreekste uitwerking op boerdery-inkomste en beleggingsvertroue, terwyl die las van siektebeheer grootliks op produsente se skouers geplaas word.

Vereis werklike samewerking

“Boere wil saamwerk en deel wees van die oplossing, maar dit vereis deursigtige kommunikasie, werkbare reëls en ’n funksionerende staatselsel. Hierdie raad kan slegs slaag as daar werklik samewerking is tussen regering, veeartse en die bedryf,” voeg Van Zyl by.

TLU SA meen die stigting van die bedryfskoördineringsraad is ’n belangrike stap, mits dit lei tot praktiese optrede, duidelike aanspreeklikheid en meetbare vordering.

Die organisasie bly verbind tot die beskerming van boere se belange, die stabilisering van Suid-Afrika se BKS-werklikheid en die versterking van die landboubedryf se weerbaarheid.

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.