Agriculture
Ekspo kans om koppe bymekaar te sit oor makadamias─── ISABEL VAN TONDER 09:26 Sat, 31 Jan 2026
Suid-Afrika bly een van die wêreld se voorste uitvoerders van makadamias en dra sowat 30% van die wêreldproduksie by.
Die jaarlikse oes beloop ongeveer 85 000 ton. Die bedryf skep na raming 97 500 permanente en seisoenale poste.
Groei bring ongelukkig ook druk mee, soos markversadiging, veranderende handelsdinamika en klimaatuitdagings. Teen hierdie agtergrond vind die vyfde AmberMacs-ekspo Donderdag (5/2) en Vrydag in Witrivier plaas.
Die ekspo het ontwikkel tot Suid-Afrika se grootste gespesialiseerde makadamiaplatform en dien as ‘n belangrike ontmoetingspunt vir rolspelers in die waardeketting.
Onlangse storms het skade in makadamiaboorde in die Laeveld veroorsaak. Foto: IntelGro
“Binne twee dae word produsente blootgestel aan beproefde benaderings en tegnologieë wat direk op plaasvlak toegepas kan word. Die waarde lê in die kombinasie van tegnologie, navorsing en werklike boerdery-ervarings,” sê Gert van Tonder, InteliGro se areabestuurder.
Suid-Afrika se makadamiabedryf het die afgelope dekade sterk uitgebrei, veral in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal.
Suid-Afrika bly die grootste produsent wêreldwyd, met Australië tweede en China derde, hoewel China sy aanplantings vinnig uitbrei. Daar is wel tekens van herstel ná ‘n moeilike pryssiklus, maar die tempo is stadiger as wat gehoop is, voeg Van Tonder by.
Boorde langtermynbeleggings
Die buitengewone reënval het verder finansiële druk op produsente geplaas. Makadamiaboorde is langtermynbeleggings van 30 tot 50 jaar, wat deeglike grondvoorbereiding en volhoubare bestuur vereis.
Schalk Lombaard, InteliGro se tegniese bemarkingspesialis vir plantvoeding, waarsku korttermynbesparing kan blywende gevolge hê. Besnoeiings in gewasbeskerming kan die opbrengspotensiaal en neutgehalte benadeel.
‘n Holistiese benadering is noodsaaklik en benewens die chemiese komponent moet ook op grondbiologie en boomgesondheid gefokus word, sê Lombaard.
Martin Booyens, InteliGro se tegniese bemarkingspesialis, glo die toekoms van die makadamia-bedryf berus op plaag- en siektebeheer.

Biologiese beheer is nie ‘n kitsoplossing nie, sê Martin Booyens, InteliGro se tegniese bemarkingspesialis. Foto verskaf
“In die Hoëveld en dele van die Laeveld bly stinkbesies ‘n groot uitdaging. In Kwa-Zulu-Natal bly die makadamianeutboorder ‘n kernplaag.” Daar is ook komplekse uitdagings soos blaaspootjies, veral in boordgebiede naby sitrus.
Blomverwelkingssiektes vereis ook programbestuur en nie slegs eenmalige beheer nie. “Biologiese beheer is nie ‘n kitsoplossing nie. Geleenthede soos die AmberMacs ekspo help produsente om meer te leer,” voeg Booyens by.
Van Tonder sê sukses begin op die plaas, maar langtermynvolhoubaarheid word gebou op die deel van kennis en samewerking binne die bedryf.
Meer inligting is beskikbaar op AmberMacs-ekspo se webwerf. Aanlyn registrasie is verpligtend.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Isabel van Tonder cvs
