On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaat se veesektor alarm – BEK versprei steeds

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 04 Feb 2026

Vrystaat se veesektor alarm – BEK versprei steeds | News Article
Bek-en-klouseer se gevalle styg steeds in Vrystaat. Foto: The Livestock project

Die toename in bek-en-klouseergevalle in die Vrystaat laat gevaarligte flikker vir die provinsie se veesektor.

Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling sê die getal gevalle staan nou op 256. Sowat 18 afsonderlike uitbrekingsgebiede is geïdentifiseer, wat strek oor12 plaaslike munisipaliteite.

Viljoenskroon/Vredefort (51) het die meeste gevalle, Parys/Vredefort (42) en Deneysville/Sasolburg (42). Vrede/Memel (12) en Cornelia/Frankfort/Villiers (12).

Edenville en Kroonstad het albei (12) en Clocolan (10). Nege gevalle is in Reitz/Lindley aangemeld en sewe elk in Marquard en Senekal. Bethlehem en Warden het ses gevalle elk en Heilbron vier. 

Inenting

Drie elk kom voor in Bothaville, Odendaalsrus/Welkom/Ventersburg, Qwa Qwa/Harrismith en Tweeling.

Die departement gee voorkeur aan inenting op besmette plase en het onmiddellik begin om virale lading en verspreiding te beperk.

 Bewegingsbeperkings is ingestel op alle plase binne 10 km. Besmette plase is onder kwarantyn geplaas.

Enige verdagte gevalle van bek-en-klouseer moet dadelik by die staatsveearts aangemeld word. Foto: Merckvet

Biosekerheid word as die eerste verdedigingslinie beskou. Die departement is egter bekommerd oor landbouers wat nie hou by die streng maatreëls nie.

Die departement vra weer boere, nywerheidsvennote en alle belanghebbendes moet saamwerk om dié virussiekte te bekamp. Dit sluit in die identifisering en voorkoming van enige onwettige beweging van vee.

Kragtens Staatskoerant No. 51512 van 13 Junie 2025 en die Dieresiektewet (Wet 35 van 1984) word boere, afslaers en spekulante gemaan om beweging van hoefdiere te beperk, streng biosekerheidsmaatreëls na te kom, nuwe vee vir 28 dae in kwarantyn te hou en noukeurig boek te hou van alle vee.

Kwarantyn

Enige verdagte gevalle moet so gou moontlik by die staatsveearts aangemeld word.

Die beweging van diere onder kwarantyn sonder die nodige dokumentasie is ’n misdaad en dié maatreëls is lewensbelangrik om die veesektor te beskerm.

Die Vrystaat speel ’n sleutelrol in Suid-Afrika se rooivleisbedryf en enige ontwrigting in veeproduksie of bewegings het ’n direkte invloed op aanbod, pryse en marktoegang.

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.