Agriculture
AgriSA verwelkom Agoa se jaar-verlenging─── ISABEL VAN TONDER 10:47 Fri, 06 Feb 2026
AgriSA verwelkom die goedkeuring deur die Amerikaanse senaat van ’n verlenging met ’n jaar van Agoa (die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika).
Lande suid van die Sahara wat in aanmerking kom, kry voorkeurtoegang tot Amerikaanse markte. Die verlenging bied egter net kortstondige verligting aan uitvoerders en beleggers, terwyl dit die dringende behoefte beklemtoon aan langdurige sekerheid in handelsverhoudinge tussen Suid-Afrika en die VSA.
Agoa speel al langer as twee dekades ’n belangrike rol in die ondersteuning van Suid-Afrika se landboubedryf, asook ander sleutelbedrywe soos motorvervaardiging en die tekstielbedryf.
“Te midde van die onsekerheid oor die VSA-SA-verhouding, het Suid-Afrikaanse uitvoer met 26% toegeneem tot $161 miljoen,” sê Johann Kotze, uitvoerende hoof van AgriSA. “Dit terwyl uitvoerders gebruik gemaak het van ’n tydelike verligting wat hoër tariewe betref.

Die VSA-mark is baie belangrik vir produkte soos druiwe en wyn. Foto: Pexel
“Hoewel uitvoer in die derde kwartaal effens afgekoel en met 11% gedaal het tot $144 miljoen, het die VSA steeds tussen 3 en 6% van Suid-Afrika se totale jaarlikse landbou-uitvoer (ontvang).”
Al lyk hierdie aandeel beskeie, weerspieël dit die sterk afhanklikheid van spesifieke waardekettings van VSA-marktoegang, voeg Kotze by. Hierdie nywerhede ondersteun duisende werksgeleenthede op die platteland en maak deel uit van breër streekwaardekettings landwyd.
In subsektore soos sitrus, volstruis, druiwe, wyn, vrugtesappe en neute is toegang tot die VSA-mark besonder belangrik, sê hy.
‘Groter voorspelbaarheid sal vertroue versterk en bilaterale samewerking verdiep’
AgriSA beskou Agoa as ’n gedeelde ekonomiese en ontwikkelingsinstrument wat nie vir politieke gewin gebruik moet word nie. AgriSA het saam met ander landbou-organisasies voorleggings gemaak ter ondersteuning van dié wetgewing se hernuwing as deel van die kwalifikasiehersiening vanjaar.
Die landbou bly verbind tot oop markte, die oppergesag van die reg en volhoubare groei. AgriSA verwelkom ook opbouende oorlegpleging tussen die SA regering en die VSA oor wedersydse tariewe en breër handelsverhoudinge.
AgriSA herhaal sy oproep vir ’n langdurige hernuwing van Agoa. “Groter voorspelbaarheid sal vertroue versterk en bilaterale samewerking verdiep,” sê Kotze.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

