Agriculture
BKS: Inenting op dreef om SA virus-vry te kry─── ELSABÉ RICHARD 11:26 Wed, 04 Mar 2026
Die regering se bek-en-klouseer-inentingsveltog is goed op dreef nadat die tweede reuse-besending entstowwe in die land aangekom het.
Die invoer van entstowwe is deel van die voortgesette stryd teen die virus, wat nou in al nege provinsies bevestig is. Die 1,5 miljoen Dolvet-entstowwe uit Turkye is Sondag (1/03) in die land verwelkom en bring die totale getal dosisse wat Suid-Afrika sover ingevoer het, op 2,5 miljoen te staan.
Die eerste besending is uit Argentinië ingevoer. Nóg 700 000 entstowwe van Botswana se entstof-instituut word ook binnekort in die land verwag.
John Steenhuisen, minister van landbou, sê dié aflewerings beklemtoon die regering se strategiese vennootskap met die privaat sektor om die land se vermoë te versterk om BKS doeltreffend te bekamp. Die entstowwe is intussen na verkseie provinsies versprei wat beskou word as brandpunte. Dit sluit in die Vrystaat, Noordwes, KwaZulu-Natal en dele van Mpumalanga.
Regering wil land weer BKS-vry kry
Die landboudepartement se doelwit is om Suid-Afrika weer BKS-vry te verklaar. Die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid doen dié klassifikasie. Volgens die nasionale regering, het die land in 2019 sy virusvrye status sonder inenting verloor toe ’n uitbreking in Limpopo se Vhembe-distrik bevestig is, en sedertdien probeer hy dit hokslaan.
Die jongste plan, wat Steenhuisen in Januarie uiteengesit het, sluit in die inenting van die land se hele kudde. Dié strategie behels die invoer en vervaardiging van entstowwe, die verspreiding daarvan na besmette gebiede en om streng biosekerheidsmaatreëls landwyd in te stel.
Verklaar tot nasionale ramp
Pres. Cyril Ramaphosa het tydens sy staatsrede BKS tot ’n nasionale ramp verklaar. Dit maak voorsiening vir die regering om vinniger op te tree teen die virus, die nodige hulpbronne beskikbaar te stel en wetstoepassingsondersteuning te bied. Máár die aankondiging is nie sonder kritiek van sommige landbouorganisasies verwelkom nie. “Nietemin is dit ons standpunt dat ’n blote rampverklaring op sigself nie die onderliggende bestuurs- en kapasiteitsuitdagings aanspreek nie,” het Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, gesê.
“Sonder ’n geïntegreerde benadering waarin bestaande kundigheid, operasionele vermoë en samewerking met die sektor doelgerig benut word, bly die risiko groot dat die maatreëls onvoldoende sal wees om die siekte doeltreffend en volhoubaar te beheer.”

Minister van Landbou, John Steenhuisen, was Maandag (2/03) deel van 'n BKS-inentingsveltog in die Vrystaat. Foto: Facebook/National Department of Agriculture
Vrystaat Landbou (VL) het intussen ook bevestig hy, die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) en Sakeliga het ’n dringende aansoek gebring in die hooggeregshof in Pretoria vir tussentydse verligting teen Steenhuisen, die departement van landbou en die direkteur van dieregesondheid.
Volgens Francois Wilken, president van VL, vorm die aansoek deel van ’n breër hersiening waarin die wettigheid, rasionaliteit en grondwetlikheid van sekere BKS-maatreëls bevraagteken word, veral wat entstowwe betref.
AgriSA vra op sy beurt dringende, gekoördineerde implementering ná die rampverklaring. Johann Kotzé, uitvoerende hoof, sê die organisasie neem deel aan die nasionale taakspan wat bestaan uit boereorganisasies en tegniese kundiges wat deur Ramaphosa ingestel is om die BKS-uitbreking te bestuur.
AgriSA sal volhard met gestruktureerde, weeklikse konsultasies met kommoditeitsorganisasies en provinsiale affiliasies om te verseker intydse terugvoer van geaffekteerde streke beïnvloed nasionale reaksiemaatreëls, sê hy.
Wat nou?
Volgens Steenhuisen sal tot 5 miljoen dosisse beskikbaargestel word in Maart. Plaaslike entstofproduksie moet gedurende dié maand toeneem en die departement begin ’n diereopsporingstelsel gebruik om ingeënte diere aan te teken.
April tot Junie behels die inperking van die virus en afdwinging van maatreëls. Die departement se plan is om inentings te herhaal waar nodig, strenger kontroles op veilings en vervoerroetes in te voer, en toetse vinniger te doen om nuwe uitbrekings op te spoor.
Teen Januarie wil die staat uitbrekings met 70% in hoërisikogebiede verminder het en beter beskerming bied aan kommersiële en kommunale kuddes.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Elsabé Richard-May
