Agriculture
Vrystaat-Landbou waarsku teen dieselprys-manipulasie─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 17 Mar 2026
Vrystaat Landbou (VL) is bewus van internasionale kommer oor brandstofmarkontwrigtings.
Dit kan voorkom weens toenemende konflik tussen Amerika, Israel en Iran. Dit kan ’n domino-effek op Suid-Afrikaanse landbou en voedselsekerheid hê, maan die organisasie.
Die gewapende stryd het reeds aansienlike wisselvalligheid in olie- en dieselmarkte veroorsaak. Dit lei tot ontwrigting in belangrike skeepvaartroetes soos die Straat van Hormoes, waardeur ’n aansienlike deel van die wêreld se olievoorraad verskeep word.
Internasionale brandstofpryse
“Hierdie ontwikkelings stoot internasionale brandstofpryse op en verhoog risiko’s van ontwrigting in die verskaffingsketting,” sê Francois Wilken, VL-president.
Hoewel die Suid-Afrikaanse regering sê die land het genoeg brandstof, bly die land hoogs afhanklik van ingevoerde geraffineerde brandstofprodukte.
Diesel bly ’n noodsaaklike inset in landbouproduksie, wat aanplanting, oes, besproeiing en die vervoer van voedsel oor die land aandryf.

Druk op die landbousektor veroorsaak verhoogde verbruikerspryse. Foto: Pexel
Bykomende druk sal op boere geplaas word as pryse styg, en dit kan bydra tot hoër voedselpryse vir verbruikers. Die organisasie hou ontwikkelings op wêredlbrandstofmarkte en hul potensiële uitwerking op landbou en voedselsekerheid fyn dop.
Hy sal ook aanhou skakel met belanghebbendes om die bestendigheid van Suid-Afrika se voedselproduksiestelsel te beskerm.
Die organisasie is bewus van gevalle waar grootmaatbrandstofverskaffers diesel van boere weerhou in afwagting van prysstygings.
Volgens Wilken sal hulle “nie toelaat dat boere uitgebuit word deur opportunistiese prysmanipulasie of voorraadbeperkings gedurende ’n tydperk wanneer landbou reeds onder druk is nie”.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

