On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Droogte in Noord-Kaap nog nie gebreek ondanks goeie reën

───   ELSABÉ RICHARD 11:15 Tue, 21 Apr 2026

Droogte in Noord-Kaap nog nie gebreek ondanks goeie reën  | News Article
Gamoep, Pofadder en Aggeneys in Namakwaland is van die droogtegeteistede gebiede. Facebook/Agri Noord-Kaap

Die droogte saai steeds verwoesting oor dele van die Noord-Kaap waar diere vrek en weivelde dor is.

Hoewel Noord-Kapenaars hul dankbaarheid betuig op sosiale media oor die afgelope paar weke se welkome reën is sekere dele steeds deur die droogte lamgelê. Dit sluit in Gamoep, Pofadder en Aggeneys in Namakwaland. 

Chris van Beljon, stigter van Bring Hoop, wys in ’n video op Facebook die dorre landskap en vra skenkings, hoe klein ook al, om boere te help om die vee wat hulle nog het, aan die lewe te hou.

Hy sê boere het niks meer oor nie. “Die voer is op. Idees is op. Diesel is op. Alles is op. Gemoed is op”. Hoewel sommige boere ligte reën ontvang het, is dit baie ongelyk versprei en praat boere van sogenaamde kol-kol reën waar een plaas reën kry en ’n buurplaas glad nie.

Van Beljon sê die emosionele impak op boere en hul geliefdes is enorm. Dis dikwels boervroue wat hom nader en hul nood deel. “Jy kan hoor in hul stem dat hulle moedeloos en gedaan is. Party is op ’n punt waar hulle voel hulle wil net die hekke toemaak en moed opgee.”

Droogtehulp

Sy droogtehulporganisasie beleef een van sy moeilikste tye in byna nege jaar. Hoewel voer van sowat 20 boere ontvang is, is daar nie genoeg geld om dit na die droogtegeteisterde gebiede te vervoer nie. 

Stygende brandstofpryse weens die oorlog in die Midde-Ooste en onvoorspelbare ekonomiese omstandighede maak dit ál moeiliker om hulp by boere uit te kry wat dit dringend nodig het.

Agri Noord-Kaap is ook bly oor die reën. “Ons deel in elke boer se dankbaarheid vir hierdie seën. Tog bly ons gedagtes en gebede by die areas wat nog nie reën ontvang het nie, mag hulle ook binnekort verligting ervaar. Saam staan ons sterk,” sê die landbouorganisasie op sy Facebook-blad.

Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê die afgelope seisoen in die Noord-Kaap was hoogs uitsonderlik. Goeie winterreën het aanvanklik oor sommige noordelike dele uitgesak, gevolg deur ’n buitengewoon warm somer.

Die kwik het af en toe tot bo 40 °C gestyg. Teen middel tot laat Februarie het goeie neerslae egter weer begin uitsak wat verligting vir weivelde gebring het. Dit het wel uitdagings vir veral druiwe- en rosyntjieboere geskep.

Van den Berg sê opvolgreën laat Februarie, vroeg Maart en weer in die laaste week van Maart het gehelp om toestande oor groot dele van die provinsie te verbeter. Sulke opvolgreën het jare lank weggebly.

Die laer temperature in dié tydperk het ook gunstige toestande vir weiding geskep. Volgens hom lyk die prentjie oor groot dele van die Noord-Kaap rooskleuriger, terwyl sommige Karoogebiede merkbaar herstel het.

Hy waarsku egter onsekerheid bestaan nog oor die langtermynvooruitsigte. Nog reën moontlik kan einde April en selfs in Mei voorkom vanweë die La Niña-verskynsel. Tog voorspel Van den Berg dat ’n El Niño-verskynsel waarskynlik teen die middel van die winter sal ontwikkel.

Dit kan hoër temperature en moeiliker toestande vir die 2026/27-seisoen meebring. Toestande lyk dus gunstig, maar kommer bly heers vir die komende seisoen.

Droogtehulporganisasies 

  • Klik hier vir Agri Noord-Kaap-stigting.
  • Klik hier vir Bring Hoop SA.

OFM Agri/Elsabé Richard-May  

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.