Agriculture
SA landbou teken hoogste handelsoorskot in geskiedenis aan─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 11 Jun 2026
Suid-Afrika se landbousektor het in die eerste kwartaal van 2026 ‘n handelsoorskot van VS$1.55 miljard (ongeveer R25.7 miljard) aangeteken.
Dit is die hoogste eerstekwartaal-handelsoorskot op rekord. Volgens AgriSA se eerstekwartaalhandelsverslag verteenwoordig dit ‘n verbetering van 16,1% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar, .
Totale landbou-uitvoere het VS$3.30 miljard (sowat R54.5 miljard) beloop, wat grootliks in lyn was met die vlakke van die eerste kwartaal van 2025, terwyl invoer met 10.6% afgeneem het. Hoewel die rekordhandelsoorskot bemoedigend is, toon die verslag dit was hoofsaaklik die gevolg van laer invoerkoste eerder as sterker uitvoergroei. Dit beklemtoon die belangrikheid om momentum in uitvoerontwikkeling en markuitbreiding te handhaaf.

Sterk prestasies is aangeteken in druiwe, appels, pere, wyn, sitrus, bessies en boomneute. Foto: Pexel.com
“Die resultate bevestig die veerkragtigheid en mededingendheid van Suid-Afrikaanse landbou in ‘n komplekse wêreldhandelsomgewing. Hoewel die rekordhandelsoorskot positief is, beklemtoon dit ook die belangrikheid daarvan om uitvoergroei te versterk, marktoegang te beskerm en biosekuriteitsuitdagings soos bek-en-klouseer aan te spreek,” sê Johann Kotze, uitvoerende hoof van AgriSA.
Die verslag beklemtoon die voortdurende sterkte van Suid-Afrika se tuinbousektor, wat gedurende die kwartaal 55% van alle landbou-uitvoere verteenwoordig het. So het dié sektor sy rol as die ruggraat van die land se landbou-uitvoerekonomie verder bevestig.

Suid-Afrika is steeds ’n betroubare verskaffer van hoëgehalte-landbouprodukte. Foto: Pexel.com
Druiwe, appels, pere, wyn, sitrus, bessies en boomneute het ook sterk presteer. Tuinbou het die grootste bydrae tot Suid-Afrika se landbou-uitvoerprestasies gelewer en beklemtoon die sektor se belang vir buitelandse valuta-verdienste, werkskepping en markdiversifikasie.
Strukturele uitdagings bly egter voortbestaan. Bek-en-klouseer beperk steeds vee-uitvoere, veral na hoëwaarde-markte in die Midde-Ooste en Asië, terwyl uitvoere na die Verenigde State gedurende die kwartaal met 39,9% afgeneem het. Die verslag wys ook op toenemende uitvoerkonsentrasie in ‘n beperkte aantal markte en subsektore.
Volgens Kotze sal “langtermynsukses afhang van ons vermoë om uitvoerbestemmings te diversifiseer, betroubare handelsverhoudings te handhaaf en ‘n gunstige omgewing te skep waarin produsente wêreldwyd mededingend kan bly”.
Die verslag beklemtoon positiewe ontwikkelings in uitvoerdiversifikasie en marktoegang, insluitend uitgebreide geleenthede in Asië en die Midde-Ooste, terwyl Suid-Afrika hom steeds as ‘n betroubare verskaffer van hoëgehalte-landbouprodukte in wêreldmarkte posisioneer.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
