On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

TLU SA verwelkom nuwe BKS-beheermaatreëls

───   ISABEL VAN TONDER 11:03 Fri, 26 Jun 2026

TLU SA verwelkom nuwe BKS-beheermaatreëls | News Article
TLU SA verwelkom die nuwe BKS-beheermaatreels wat ingestel word. Foto: Pexels

TLU SA verwelkom landbouminister John Steenhuisen se aankondiging oor die nuwe beheermaatreëls vir bek-en-klouseer (BKS).

Die organisasie beskou die wysigings as ’n voorwaartse stap wat groter duidelikheid aan produsente kan bied en erkenning gee aan die groot ekonomiese uitwerking van langdurige uitbrekings en beperkende maatreëls op die veesektor.

“Boere het lank gevra vir duideliker riglyne en groter voorspelbaarheid wanneer uitbrekings voorkom,” sê Bennie van Zyl, TLU SA-hoofbestuurder. Dit is positief dat die nuwe maatreëels poog om ’n beter balans tussen doeltreffende siektebeheer en die ekonomiese volhoubaarheid van veeboerderye te vind.”

Volgens TLU SA is dit bemoedigend dat groter klem geplaas word op wetenskaplik gefundeerde besluitneming en meer praktiese oplossings om produsente in staat te stel om produksie te hervat sonder om biosekuriteit in te boet.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA sê alle kundigheid in Suid-Afrika moet benut word. Foto: TLU SA

Die groter buigsaamheid ten opsigte van kwarantyn, die erkenning van ingeënte maar nie- besmette diere as gesonde diere, asook alternatiewe kuddes waar dit nie nodig is nie, is stappe wat die bedryf lank reeds versoek het.

Van Zyl waarsku egter die sukses van die nuwe raamwerk sal nie net deur die inhoud van die regulasies bepaal word nie, maar deur die wyse waarop dit toegepas word.

Die bek-en-klouseerkrisis het oor ’n lang tyd ontwikkel en is nie net die gevolg van uitbrekings nie, maar ook van ’n benadering wat in baie opsigte steeds vasgevang is in verouderde regulasies en prosesse. Die staat het eenvoudig nie alleen voldoende kapasiteit om hierdie uitdaging op die vereiste skaal die hoof te bied nie.

Volgens TLU SA is dit tyd om die regulatoriese omgewing krities te herevalueer. Foto: Pexel.com

Alle beskikbare kundigheid en kapasiteit in Suid-Afrika behoort benut te word, voeg Van Zyl by. Die privaat sektor beskik oor hoogs gekwalifiseerde veeartsenykundige kundigheid en praktiese ervaring wat, binne ’n behoorlik gereguleerde raamwerk, ’n veel groter rol kan speel om kuddes gesond te hou en produsente in produksie te hou.

TLU SA meen dis tyd om die regulatoriese omgewing krities te herevalueer. Die grootste uitdaging bly die kapasiteit waaroor Suid-Afrika beskik om uitbrekings betyds te identifiseer, te bestuur en produsente te ondersteun.

“Ons doel moet wees om die siekte doeltreffend te beheer, internasionale markte te beskerm én terselfdertyd te verseker dat produsente kan voortgaan om voedsel te produseer.

“Dit verg ’n moderne, praktiese benadering waarin elke beskikbare rolspeler die geleentheid kry om ’n bydrae te lewer,” sê Van Zyl.

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.