On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Rekordoes vir rosyntjiebedryf

───   ISABEL VAN TONDER 10:48 Fri, 17 Jul 2026

Rekordoes vir rosyntjiebedryf | News Article
Die rosyntjiebedryf beleef nóg ’n uitsonderlik goeie seisoen. Foto: Pexel.com

Voorlopige innamesyfers bevestig nóg ’n uitsonderlike seisoen vir die Suid-Afrikaanse rosyntjiebedryf.

’n Rekordoes is in die Olifantsrivierstreek behaal, en die bedryf het weer die belangrike 100 000 t-mylpaal oorskry. Die voorlopige totale inname vir die seisoen staan op 100 655,542 t. 

Hierdie prestasie is merkwaardig, aangesien die aanvanklike oesskatting net 86 500 t was. Ná ’n seisoen wat gekenmerk is deur buitengewone siektedruk en uitdagende produksietoestande, het die bedryf uiteindelik sowat 16% beter gevaar as die aanvanklike verwagting.

Die seisoen is gekenmerk deur buitengewone hoë siektedruk en uitdagende produksietoestande. Foto: Pexel.com

Die voorlopige innames per produksiegebied is: 

  • Olifantsrivier – 18 194 600 kg, 
  • Oranjerivier – 80 458 910 kg, en 
  • Namibië – 2 002 032 kg. 

Die Olifantsrivierstreek het ’n besonder sterk seisoen beleef, met ’n rekordinname wat 14% hoër as die vorige seisoen.

“Om vir die tweede jaar agtereenvolgens die 100 000-t-mylpaal te oorskry, is ’n besonderse prestasie, veral ná ’n seisoen met buitengewone siektedruk. Hierdie resultaat is ’n bewys van die deursettingsvermoë, kundigheid en toewyding van ons produsente en die hele waardeketting,” sê Wessel Lemmer, uitvoerende hoof van Raisins South Africa.

Raisins South Africa is die nasionale bedryfsorganisasie wat Suid-Afrika se rosyntjieprodusente en -verpakkers verteenwoordig. Die organisasie bevorder die volhoubare groei, mededingendheid en internasionale belang van die Suid-Afrikaanse rosyntjiebedryf deur navorsing, marktoegang, transformasie en bedryfsontwikkeling.

Die groot oes is ’n bewys van die deursettingsvermoë, kundigheid en toewyding van produsente. Foto: Pexel.com

Hierdie prestasie getuig van die veerkragtigheid, kundigheid en volgehoue toewyding van Suid-Afrikaanse rosyntjieprodusente, -verpakkers en ander rolspelers in die waardeketting, voeg Lemmer by. Klein volumes word steeds van enkele verpakkingsaanlegte verwag.

Suid-Afrika se vermoë om konsekwent groot volumes rosyntjies van wêreldgehalte aan plaaslike en buitelandse markte te lewer, is hiermee onteenseglik bevestig.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.