Agriculture
Boere pas aan by veranderende omgewing─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 03 Sep 2026
Namate die Sandveld droër en warmer word, sal boere voortdurend moet aanpas.
Veranderende reënval, hoër temperature, verskillende grondtipes en die beskikbaarheid van goeie water beïnvloed reeds hoe daar in dié streek geboer word. Syngenta se nasionale aartappelboer van die jaar sê boere moet aanpas by verandering, leer uit ervaring en met vertroue vorentoe kyk.
SW van Zyl van Sandveld Aartappels se verhaal gaan egter oor veel meer as die toekenning. Aartappelproduksie word vandag sterk met die Sandveld verbind, maar dié bedryf het eers betreklik onlangs in die streek gevestig geraak.
Die Sandveld was vroeër hoofsaaklik ’n wêreld van patats, pampoene, heerbone en kleinvee, veral bokke, met ook ’n klein aantal Afrikanerbeeste. Aartappelboerdery het in die laat 1960’s stadig en op ’n eenvoudige manier begin. Aartappels is met die hand geplant en later met grawe en vurke uitgehaal.

SW van Zyl van Sandveld Aartappels se werksaamhede op sy aartappelplaas. Foto: Syngenta
“Die klassering het sommer op die land gebeur. Die aartappels is nie gewas of geborsel nie. My skoonpa, Koos Louw, het elke Vrydagmiddag die week se oes agter op sy Studebaker-bakkie gelaai – tot honderd sakke,” vertel Van Zyl.
Van Zyl het sy eerste tien jaar op 35 ha geboer en plant vandag 550 ha. Hy skryf sy ontwikkeling toe aan persoonlike opleiding deur sy skoonpa, praktiese ervaring en kennis wat oor jare in die lande opgebou is.
Die omgewing waarin hy boer, verander egter merkbaar. Van Zyl sê die inheemse plantegroei het oor die afgelope 25 jaar verander, veral weens minder reën. Temperatuurveranderinge het volgens hom die afgelope vier tot vyf jaar vinniger geword, met temperature vroeg in Augustus wat soms soos dié van middel Oktober voel.

Die Syngenta nasionale aartappelboer van 2026 se verhaal strek verder as toekennings. Foto: Syngenta
Grondverskille maak produksie verder ingewikkeld. Van Zyl sê die Sandveld het drie hoofgrondtipes, maar die struktuur van die sand verskil van plaas tot plaas. Selfs binne een besproeiingsirkel van tien hektaar kan drie of vier verskillende grondtipes voorkom.
Sandveld Aartappels produseer dwarsdeur die jaar, hoofsaaklik vir die varsmark. Die aartappels word gewas, gesorteer en in verskillende verpakkingsgroottes verpak. Watergehalte bly volgens Van Zyl een van die belangrikste produksiefaktore, terwyl besproeiing toenemend as ’n wetenskaplike uitdaging bestuur word.
Insetkoste plaas ook groter druk op die boerdery. Van Zyl sê brandstofprysverhogings het sy koste met sowat R100 000 laat styg. Doeltreffende gebruik van water, goeie bestuur en deeglike beplanning word daarom al belangriker.
Hy beklemtoon die boerdery kan nie deur een persoon gedryf word nie. Van Zyl sê sy vrou, Hannelie, sy bestuurspan, werknemers en kundiges van InteliGro speel almal ’n belangrike rol in die onderneming.
“Aartappels leer jou om nederig te wees,” sê hy. In sy pakstoor herinner rigtingwysers hom daagliks aan sy benadering tot boerdery: “Hoe harder jy werk, hoe groter is jou kans op geluk. Kyk vorentoe en wees opgewonde. Kyk terug en wees trots. Kyk op en wees dankbaar.”
OFM Agri sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
