Agriculture
Reën gee boere beter wegspringplek, maar El Niño bly risiko─── ISABEL VAN TONDER 12:50 Thu, 01 Oct 2026
Die goeie reën die laaste paar dae gee Suid-Afrika se somergraanboere ’n beter wegspringplek, maar dit beteken nie die El Niño-risiko vir die 2026/27-seisoen het verdwyn nie.
Aanplantings in die oostelike produksiegebiede begin gewoonlik teen middel Oktober en in die westelik gebiede omstreeks middel November. Die jongste reën kan egter beteken dat sommige produsente vroeër as gewoonlik begin plant omdat grondvog reeds aansienlik verbeter het. Die weervooruitsigte bly nietemin kommerwekkend vir die komende somer.
“Die reën vroeër vandeesweek is waardevol en help om grondvog te verbeter, maar dit verander geensins die vooruitsigte vir die komende seisoen nie,” sê Agbiz-hoofekonoom Wandile Sihlobo. Suid-Afrikaanse en internasionale weerkundiges dui steeds op ’n moeilike El Niño-seisoen, ondanks die goeie begin.
Die land gaan die nuwe seisoen egter met ’n veel sterker buffer binne as tydens die ernstige droogte van 2014 tot 2016. Suid-Afrika het sowat 17,4 miljoen t mielies geoes en het die huidige seisoen met meer as twee miljoen ton voorraad begin. Jaarlikse mielieverbruik is sowat 12 miljoen ton.
‘Groot damme was teen einde September gemiddeld meer as 80% vol’
Die verskil met die vorige droogte bly groot. Suid-Afrika moes destyds witmielies uit Mexiko invoer om voorraad aan te vul. Voedselprysinflasie het in 2016 gemiddeld 10,8% beloop. Die huidige graanvoorraad behoort daarom ’n skokbreker te wees indien die nuwe seisoen moeiliker verloop.
Grondvog is ook beter ná reën wat tot laat in die vorige seisoen voortgeduur het. Groot damme was teen einde September gemiddeld meer as 80% vol. Dit is belangrik vir vee en die besproeiing van kommersiële vrugte en groente, hoewel sowat 80% van veldgewasse steeds van reën afhanklik is.
Juis dié afhanklikheid beteken graan, oliesade en suikerriet bly kwesbaar indien die voorspelde droër toestande tydens kritieke groeistadiums toeslaan. Reën rondom bestuiwing kan egter ’n groot verskil maak. Teen einde Oktober behoort daar ook ’n beter aanduiding te wees van hoeveel grond produsente vir somergewasse gaan beplant.
Sihlobo verwag boere sal waarskynlik voortgaan om te plant ondanks die risiko’s. Hy beskryf Suid-Afrikaanse produsente as veerkragtig en optimisties en meen die goeie grondvog kan hulle aanmoedig om hul kans te waag terwyl hulle hoop op reën wanneer gewasse dit die nodigste het.
Verbruikers gaan die gevolge van die vorige goeie oes intussen steeds in voedselpryse sien. Voedselprysinflasie was in Augustus net 0,7%, ná 0,6% in Julie, die laagste tempo van prysstygings sedert 2010. Vir volgende jaar word ’n styging tot ongeveer 5% of 5,5% verwag.
Boere se kostedruk bly egter groot. Kunsmis verteenwoordig ongeveer ’n derde van graanprodusente se insetkoste en brandstof nog 10% tot 15%. Internasionale spanning kan albei verder beïnvloed. “Ons is nie in krisismodus nie. Daar is druk in die landbousektor, maar ons begin op ’n veel beter grondslag as in die onlangse verlede,” sê Sihlobo.
Agri OFM sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
