On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Ashmund
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Aap voortydig uit mou oor nuwe Boer soek ’n vrou-aanbieder

───   09:27 Thu, 22 Oct 2026

Aap voortydig uit mou oor nuwe Boer soek ’n vrou-aanbieder | News Article
Kate Roothman. Foto: Facebook

Die identiteit van “Boer Soek ’n vrou” se nuwe aanbieder het uitgelek ’n dag voordat kykNET haar Donderdagaand (22/10) amptelik aan kykers sou bekendgestel het.

Die aktrise Kate Roothman, veral bekend vir haar rol as dr. Nicolette Nortjé in Binnelanders, neem die leisels by Reandi Grey oor. Sy word die agtste aanbieder van kykNET se gewilde maatsoekreeks, maar die nuus het reeds Woensdag in verskeie publikasies verskyn.

kykNET het vroeër gesê die nuwe aanbieder sou eers Donderdagaand om 21:00 in Bravo! bekendgemaak sou word, direk ná die afsluiting van die huidige Boer Soek ’n Vrou-seisoen. Roothman se eerste onderhoud oor haar nuwe rol, met Bravo!-aanbieder Ewan Strydom, word steeds Donderdagaand uitgesaai.

Roothman sê dit is vir haar ’n groot eer om deel te word van ’n program wat oor baie jare ’n instelling onder Suid-Afrikaanse kykers geword het. Sy beskou die geleentheid om boere op hul soeke na liefde te vergesel as ’n voorreg wat met opgewondenheid én ’n groot verantwoordelikheid gepaardgaan.

kykNET deel die nuus so op sy Facebookblad.

Die plaasomgewing is nie vir haar vreemd nie. Roothman het op ’n plaas naby Sannieshof in Noordwes grootgeword, waar haar kinderdae deur perdry, visvang en ure in die buitelug gekenmerk is. Sy sê die vryheid, harde werk en eenvoud van die platteland het ’n blywende indruk op haar gemaak.

Volgens haar lê Boer soek ’n vrou se aantrekkingskrag juis in die egtheid van die mense en hul ervarings. Sy meen kykers herken hulself en soms selfs hul eie families in die deelnemers se verhale, terwyl die reeks uiteindelik handel oor mense wat iemand soek met wie hulle hul lewe en drome kan deel.

Roothman sê sy wil in haar nuwe rol veral ’n vertroueling vir die boere en hul moontlike pasmaats wees. Sy glo nie alle eerlike gesprekke hoef om ’n tafel te gebeur nie. Soms praat mense makliker wanneer hulle saam werk, langs ’n bakkie staan of onderweg iewers heen is.

Waardering vir Grey

Sy het ook groot waardering vir Grey se aanslag as aanbieder. Volgens Roothman het haar voorganger warmte, styl en natuurlike empatie na die reeks gebring en daarin geslaag om ’n veilige ruimte vir deelnemers te skep. Grey het vroeër vanjaar aangekondig dat sy ná twee seisoene groet om meer tyd saam met haar gesin deur te bring.

Roothman erken die nuwe taak maak haar ook senuweeagtig. Deelnemers vertrou die aanbieder met hul persoonlike verhale, hoop en teleurstellings, en sy sê dit is ’n verantwoordelikheid wat sy met respek aanpak. Sy sien terselfdertyd daarna uit om die boere, hul wêrelde en verskillende dele van die land beter te leer ken.

Kykers sal Donderdagaand om 20:00 die afsluiting van die huidige seisoen van Boer soek ’n vrou kan volg. Daarna word Roothman om 21:00 in Bravo! in haar eerste televisieonderhoud as die reeks se nuwe aanbieder gesien – hoewel haar identiteit teen daardie tyd reeds ’n dag lank openbare kennis is.

OFM Agri cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.