Agriculture
Ses jaar tronkstraf vir veedief wat polisie probeer omkoop─── 14:55 Wed, 11 Nov 2026
Tronkstraf kan veediewe se voorland wees wat polisielede probeer omkoop om vervolging te ontduik, waarsku die NVG nadat ’n 47-jarige ses jaar gevangenisstraf opgelê is vir veediefstal en korrupsie.
Thipamagaso Justice Molapo is in die Ermelo-streekhof skuldig bevind nadat hy twee polisiebeamptes R10 000 aangebied het om hom toe te laat om vermoedelik gesteelde bokke te verkoop. Die hof het hom ses jaar gevangenisstraf vir veediefstal en vier jaar vir korrupsie opgelê, maar gelas dat die vonnisse gelyktydig uitgedien word.
Molapo het in Julie 2024 15 bokke na die Karoo Osche-veiling op Ermelo gebring. ’n Oplettende lid van die veediefstaleenheid het onraad vermoed nadat hy onreëlmatighede aan die diere se identifikasiemerke opgemerk het.
Sommige bokke het gate in hul ore gehad waar identifikasieplaatjies vermoedelik verwyder is. Ander se ore was afgesny of hul inkmerke was onduidelik, wat vrae oor die diere se herkoms laat ontstaan het.

Monica Nyuswa, NVG-streekwoordvoerder. Foto: X
Die polisie het Molapo ondervra en hom gevra om hulle na die woning te neem waar hy die bokke opgelaai het. Hy het daarop die twee beamptes R10 000 aangebied om hom toe te laat om met die veiling voort te gaan en inhegtenisneming vry te spring.
Die beamptes het die omkoopgeld van die hand gewys en Molapo in hegtenis geneem. Hy is daarna op borgtog vrygelaat, onderhewig aan bepaalde voorwaardes.
Staatsaanklaer Charles Lloyd het tydens die verhoor getuienis aangebied dat twee klaers van Lebowakgomo sommige bokke uitgeken het as diere wat kort tevore by hulle gesteel is. Die staat het ook getuienis voorgelê oor ’n bekentenis wat Molapo tydens die ondersoek gemaak het, maar wat hy daarna in die hof betwis het. Die vervolging het op die beskikbare getuienis gesteun om albei aanklagte te bewys.
Monica Nyuswa, NVG-streekwoordvoerder, verwelkom die vonnis en prys die polisielede se oplettendheid en integriteit. “Veediefstal veroorsaak aansienlike finansiële skade vir vee-eienaars en boerderygemeenskappe, terwyl korrupsie die regspleging en openbare vertroue in wetstoepassingsinstellings ondermyn.”
Die NVG wil aanhou om nou met wetstoepassingsagentskappe saam te werk om veediefstal en korrupsie doeltreffend te vervolg. “Diegene wat uit misdaad probeer baat en die strafregstelsel deur omkopery ondermyn, sal vervolg en ingevolge die reg aanspreeklik gehou word,” sê Nyuswa.
Benewens die gevangenisstraf is Molapo onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Die hof het ook gelas dat die Nissan NP200 wat met die saak verbind word, aan die staat verbeurd verklaar word.
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

