Offbeat
Cool Kids - Caiden Carrick - in sy eie woorde─── 16:40 Thu, 24 Nov 2022
Hierdie week se cool kid is 'n jong heer met ’n blink toekoms in gevegskuns, Caiden Carrick.
Hier is Caiden se storie:
My naam is Caiden. Ek is 13 jaar oud, ek is ’n tuisskool-leerder van Bloemfontein. My martial arts-loopbaan het in 2017 begin - ek het twee jaar lank karate gedoen voordat ek na taekwondo oorgegaan het. Ek hou van taekwondo want daar is baie verskillende wapenstyle, waarvan die gumdo (sword) my gunsteling is.
Ek het met nun chucks begin en van daar af is ek oor na die jangbong wat ’n yster- of houtstok is. Ek is op my 2de dan swartbelt en wil baie graag tot en met my 9de dan gaan en eendag ’n grand master word.
Ek het met die SA taekwondo nasionale kampioenskap drie 1ste plekke gekry, in traditional forms, traditional weapons en sparring. Ek het ook drie 3de plekke gekry, vir combat sparring, team sparring en team combat.
Ek help met afrigting by die klub en is as die junior swartbelt-instrukteur van die jaar aangewys. Ek sien baie uit om SA in Julie volgende jaar in Phoenix, Arizona by die wêreldkampioenskap te verteenwoordig.
Ons bak tans pannekoek, koeksisters en samel bottels in om geld in te samel vir my deelname. My pa het ook ’n ”back a bubby”-rekening begin om ons te help.
Ek oefen baie hard en gaan my beste gee om my land trots te maak. Ek sien uit om teen deelnemers van ander lande te staan te kom en hul style en tegnieke te sien en te leer.
Almal oefen baie hard om die wêreldkampioenskap te wen, want dit is ’n groot prestasie. Ek gaan hard werk om 1ste plekke vir sparring en combat sparring te wen.
