Offbeat
Weird Wide Web – Nasa beplan om basis op die maan te vestig─── 15:16 Tue, 17 Nov 2026
Vergeet van strandhuise, vakansiehuise en aftreeoorde. Nasa het sy visier op iets wat ’n bietjie verder weg is – ’n permanente basis vir mense op die maan.
Die Amerikaanse ruimte-agentskap het ambisieuse planne aangekondig om teen 2032 ’n maanbasis te vestig waar ruimtevaarders eindelik vir lang tydperke kan woon en werk. Die planne is tydens Nasa se Max Power-geleentheid by die Kennedy-ruimtesentrum in Florida bekend gemaak.
Nuwe kontrakte is aangekondig vir mesne wat op die maan land, robotverkenning, kragstelsels en ruimtevervoer. Nasa-administrateur Jared Isaacman sê wanneer ruimtevaarders na die Maan terugkeer, sal die eerste gedeelte van hul toekomstige tuiste reeds daar vir hulle wag.
En dis die slim deel van die plan. In plaas daarvan om ruimtevaarders soontoe te stuur en te verwag dat hulle alles van voor af moet bou, wil Nasa toerusting, masjinerie en noodsaaklike materiaal vooraf aflewer.
Die projek sal in drie fases verloop. Eerstens kom robotverkenning, daarna infrastruktuur wat mense in staat sal stel om langer daar te bly, en eindelik ’n permanente basis. Nasa verander ook van rigting deur weg te beweeg van sy vorige plan vir die Lunar Gateway-ruimtestasie en eerder op infrastruktuur direk op die Maan te fokus.
Lees ook: Weird Wide Web – Ouers neem beheer oor dogter se sosiale media
Een van die grootste dele van die program is ’n tienjaarkontrak ter waarde van tot 10 miljard Amerikaanse dollar – ongeveer R165 miljard – vir die aflewering van toerusting en voorraad na die maanoppervlak.
En dan is daar die tegnologie! Nasa ontwikkel ’n kernaangedrewe maanvoertuig met die nogal indrukwekkende naam PROMISE. Dit staan vir Polar Rover for Observation, Mapping and In-Situ Exploration. Anders as sonkrag-aangedrewe voertuie, wat tydens die Maan se twee weke lange nag probleme sal ondervind, is hierdie voertuig ontwerp om aan te hou werk selfs wanneer die Son nie sigbaar is nie.
Een van sy take sal wees om kraters naby die Maan se Suidpool te verken wat permanent in skaduwee gehul is. Wetenskaplikes vermoed dat daar moontlik waterys versteek kan wees.
Die voertuig sal selfs ’n boor hê waarmee dit ongeveer 90 cm diep onder die maanoppervlak kan indring om monsters te versamel. Nasa het ’n kontrak van 94 miljoen Amerikaanse dollar – ongeveer R1,55 miljard – aan die ruimtemaatskappy Blue Origin toegeken wat met die sending verband hou. Die maatskappy kan moontlik nog 140 miljoen dollar, oftewel ongeveer R2,3 miljard, ontvang indien dit die voertuig suksesvol by die Maan se Suidpool aflewer.
Die agentskap werk ook aan sonpanele, batterye en draadlose kragstelsels om die toekomstige maanbasis van elektrisiteit te voorsien. Nasa se volgende Artemis-sending is tans vir 2027 geskeduleer, met ’n bemande maanlanding wat vir 2028 beplan word. Dit laat die agentskap net vier jaar ná die beplande landing om na sy 2032-basisdoelwit te werk.
Terwyl ons nog wonder of ons hierdie Desember eerder see toe of Bosveld toe moet gaan, beplan Nasa dus ’n splinternuwe vakansiebestemming. Natuurlik is daar ’n paar dinge om in gedagte te hou voordat jy jou maanverblyf bespreek. Geen atmosfeer nie, uiterste temperature, nagte wat twee weke lank duur en beslis geen vinnige draai by die winkel wanneer die melk opraak nie. Maar dink net aan die uitsig!
En as jy gedink het eiendomspryse in Kaapstad is buitensporig, wag totdat jy die tariewe vir ’n woonstel met ’n uitsig oor die Maan sien!
Lees meer sm
