Offbeat
Weird Wide Web: Groep dreigende kalkoene terroriseer dorp─── 15:33 Mon, 28 Nov 2022
’n Groep geveerde rampokkers en hul intimiderende leier, Kevin die Kalkoen, het inwoners van Woburn in Massachusetts, VSA, op hol.
Volgens 'n artikel op Huffpost bring vyf van dié wilde voëls baie van hul tyd op die grasperk van 'n vrou genaamd Meaghan Tolson deur.
Tolson, wat Kevin sy naam gegee het, beskryf hom as die "slegte eier" onder die andersins vroulike bende (genaamd Gladys, Ester, Monica en Patricia).
“Die wyfies is minder intimiderend en nie so territoriaal nie."
Sy het verskeie video's wat wys hoe Kevin en sy bende naby die deur van haar huis of motor skuil. "Hulle laat jou nie uit jou huis uit nie," sê sy.

Die plaaslike media is welbekend met Kevin en kie. se manewales.
"Hulle is al om 06:00 op my grasperk, jaag ons rond en pik ons motorbande," sê Woburn-inwoner Devin Farren. “Dis wild!”
David Scarpitti, 'n kalkoenkenner by die staat se natuurlewe-afdeling, sê dat hierdie soort probleme ontstaan wanneer kalkoene te gewoond aan mense raak.
"Dit gebeur as mense hulle met die hand voer, of wanneer kalkoene die kos wat vir ander tuinvoëls bedoel is, vir hulself toeëien."Om vir hulle weg te hardloop, help nie want dan sien hulle jou as onderdanig aan hulle," sê hy. Hy stel voor dat mense 'n sambreel saamdra en dit oopmaak om hulle af te skrik.
Lees meer hier.
