Offbeat
Weird Wide Web: Dolly Parton se geheime liedjie─── 15:10 Tue, 06 Dec 2022
Die legendariese sangeres het bevestig dat sy 'n geheime liedjie opgeneem het wat eers ná haar dood uitgereik gaan word.
Volgens Unilad word daar al 'n ruk lank bespiegel oor 'n versteekte Dolly Parton-liedjie wat iewers in 'n boks by haar Dollywood-temapark in Tennessee weggesteek is.
Die liedjie sal eers in 2045 vrygestel word, wanneer Dolly – in alle hartseer waarskynlikheid – nie meer met ons sal wees nie (of dalk wel, mens weet nooit!)
Dolly het onlangs op die Tonight Show teenoor Jimmy Fallon die bespiegelings bevestig: Daar is 'n geheime liedjie wat ná haar dood vrygestel sal word.
"Dit is die waarheid," het die Jolene-sangeres gesê.
Sy het voortgegaan: "Ons doen baie dinge by Dollywood, en een jaar is ek gevra of ek 'n liedjie sou skryf wat niemand tot 2045 sal hoor nie.
"Ek sal dood en weg wees, wel, ek sal dalk nie wees nie, want ek sal dan 99 wees. Jy ken my, ek kan dan nog steeds rondspring."
Kom ons hoop so, Dolly

Sy het verduidelik hoe sy die CD in 'n boks gesit het en selfs 'n CD-speler ingesluit het, asook notas oor hoe sy die musiek geskep het.
Dolly sê egter sy is nou spyt oor die besluit om die liedjie vir toekomstige geslagte weg te sluit.
"Dit is regtig 'n baie goeie liedjie," sê sy.
"Miskien moet ek 'n ander liedjie opneem, een waarmee ek nie so gelukkig is nie, om die boks weer vol te maak."
Lees meer hier.
