On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Offbeat

Weird Wide Web: Plan om dodo te laat herleef lok geld én vrae

───   16:41 Fri, 03 Feb 2023

Weird Wide Web: Plan om dodo te laat herleef lok geld én vrae | News Article
Die dodo mag dalk net binnekort herleef. FOTO: AP/Matt Dunham

Die dodo gaan nie binnekort herleef nie. Ook nie die wollerige mammoet nie. Maar 'n maatskappy wat tegnologie ontwikkel om uitgestorwe spesies te laat herleef lok beleggers, al is wetenskaplikes skepties oor die idee.

Colossal Biosciences van Amerika het twee jaar gelede sy ambisieuse plan om die wollerige mammoet te laat herleef aangekondig, en het vandeesweek gesê hy wil ook die dodo-voël terugbring.

"Die dodo is 'n simbool van mensgemaakte uitwissing," sê Ben Lamm, medestigter en uitvoerende hoof van Colossal.  

Die laaste dodo - 'n vluglose voël omtrent so groot soos 'n kalkoen - is in 1681 op die Indiese Oseaan-eiland Mauritius doodgemaak.

Die maatskappy het dié week aangekondig dat hy $150 miljoen se finansiering verkry het, bykomend tot die $225 miljoen wat beleggers reeds bygedra het.

Die vooruitsig om die dodo te laat herleef sal na verwagting nie direk geld maak nie, sê Lamm. “Maar die genetiese toerusting wat die maatskappy ontwikkel om dit te verwesenlik kan ander gebruike hê, insluitend vir menslike gesondheidsorg.”

Colossal toets nou die moontlikheid om verskeie dele van die genoom gelyktydig aan te pas. Dit werk ook aan tegnologieë vir 'n kunsmatige baarmoeder.

Die dodo se naaste lewende familielid is die Nicobar-duif, sê Beth Shapiro, 'n molekulêre bioloog op Colossal se wetenskaplike adviesraad, wat die dodo al twee dekades bestudeer.

Haar span beplan om DNS-verskille tussen die Nicobar-duif en die dodo te bestudeer om te verstaan "wat is die gene wat regtig 'n dodo 'n dodo maak," sê sy.

Die span kan dan probeer om Nicobar-duifselle aan te pas om hulle soos dodo-selle te laat lyk. Dit kan moontlik wees om die aangepaste selle in ontwikkelende eiers van ander voëls, soos duiwe of hoenders, te plaas om ‘n nageslag te skep wat op hul beurt dodo-eiers natuurlik kan produseer, het Shapiro gesê. Die konsep is nog in 'n vroeë teoretiese fase.

Omdat diere 'n produk is van beide hul genetika en hul omgewing - wat dramaties verander het sedert die 1600's - het Shapiro gesê dat "dit nie moontlik is om 'n 100% identiese kopie van iets wat weg is te herskep nie."

Ander wetenskaplikes bevraagteken egter of die terugbring van uitgestorwe spesies aandag en fondse wegvat van pogings om spesies wat nog op aarde is, te red.

"Dit is gevaarlik om te sê dat as ons die natuur vernietig, ons dit net weer aanmekaar kan sit - want ons kan nie," sê Stuart Pimm, ekoloog van die Duke-universiteit. "En waar op aarde sal jy 'n wollerige mammoet sit, anders as in 'n hok?" vra hy.

"Dit moet ons prioriteit wees om te voorkom dat spesies in die eerste plek uitsterf, en in die meeste gevalle is dit baie goedkoper," sê Boris Worm, 'n bioloog aan die Universiteit van Dalhousie in Halifax, Nova Scotia.

Lees meer hier:

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.