Offbeat
Weird Wide Web: Visse spandeer eienaar se geld aanlyn─── 16:07 Mon, 06 Feb 2023
’n Japannese YouTuber het ’n sy Nintendo Switch-konsole só opgestel sodat sy troetelvisse daarmee Pokémon kon speel, maar ’n wanfunksie het veroorsaak dat die vis sy kredietkaartinligting tydens ‘n regstreekse stroming uitgelek het.
Volgens UPI het die YouTuber Mutekimaru, oftewel Maurice, ‘n YouTube-kanaal waar sy visse verskeie speletjies in die Pokémon-franchise speel, tot groot vermaak van sy sowat 100 000 intekenare.
Die visse beheer die speletjie deur na verskillende areas van hul tenk te swem, wat toegerus is met sensors wat die druk van die knoppies op Maurice se Nintendo Switch simuleer.
‘n Wanfunksie tydens ‘n speletjie het egter daartoe gelei dat die Nintendo Switch na sy tuisskerm teruggekeer het.
Die visse het egter aangegaan om hul eie ding te doen (dus, te swem) en tot hul eienaar se verstomming dit reggekry om Nintendo se e-winkel oop te maak, $4 te bestee om punte te koop én sy kredietkaartinligting tydens die regstreekse stroming aan die wêreld te verkondig.
LEES OOK: Weird Wide Web: Plan om dodo te laat herleef lok geld én vrae
Die visse het ook daarin geslaag om 'n toepassing om Nintendo 64-speletjies te speel, af te laai, beloningspunte te gebruik om ‘n nuwe avatar te koop, ‘n e-pos as bevestiging van PayPal aan te vra en Maurice se rekeningnaam van "Mutekimaru" na "ROWAWAWAWA" te verander.
Die visse het daarna die Switch-konsole afgeskakel voordat Maurice ontdek het wat op die regstreekse stroming gebeur het.
Maurice sê hy het aan Nintendo die ongewone voorval verduidelik en die maatskappy het die geld wat sy stoute visse spandeer het, terugbetaal.
“Ek is so trots op die visse omdat hulle die diensbepalings gelees het,” is van die kommentaar wat een intekenaar onderaan die video gelaat het.
“Ek is jammer om te hoor van die visse wat op 'n inkopietog gegaan het, ek hoop julle het ‘n ernstige gesprek oor verantwoordelike geldbesteding gehad,” sê ‘n ander.
“Verbeel jou, jy moet aan jou bank verduidelik dat jy jou besonderhede moet verander want jou visse het jou kredietkaartinligting aanlyn uitgelek."
Lees meer hier.
