On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Offbeat

Weird Wide Web: Eers verf, dán werk vir Pakistan-trekkers

───   15:37 Mon, 13 Feb 2023

Weird Wide Web: Eers verf, dán werk vir Pakistan-trekkers | News Article
Pakistan wys hoe mooi 'n trekker kan lyk!

Pakistan is bekend vir sy kleurvolle trekkers, wat eers met verf, klokkies, linte en vere versier word voordat hulle vir boerdery ingespan word.

Dié trekkers staan bekend as Russiese trekkers en nie sonder rede nie – dit is van Wit-Rusland, oftewel Belarus, afkomstig wat bekend staan as die “wêreld se enjinkamer van trekkervervaardiging”.

Belarus se leier, Alexander Loekasjenko, het selfs vir Rusland se Vladimir Poetin 'n trekker vir sy 70ste verjaardag geskenk.

Hierdie Russiese trekkers is 'n integrale deel van boerdery in landelike Pakistan, waar hulle baie grondeienaars ryk gemaak het.

Trekkers op oorlogspad

Die trekkers se reis van Belarus na Pakistan begin dekades gelede. In die 1970’s het die destydse Sowjet-Unie dié trekkers aan Afganistan geskenk om sy steun aan die destydse pro-kommunistiese regering in Kaboel te toon. Die trekkers was só veelsydig dat hulle nie net vir landbou nie, maar ook vir padwerk en selfs verdediging ingespan is.

Die Sowjet-Unie het Afganistan in 1979 binnegeval en namate die land dieper in konflik gedompel is, het Afgaanse anti-Sowjet magte daarop beslag gelê en in ander lande van die hand gesit. Gedurende dieselfde tydperk het smokkelaars Belarus se beroemde trekkers na Pakistan begin bring. Die vraag was só groot dat trekkeronderdele selfs op die rûe van donkies en kamele gesmokkel is.

Trekkerkuns

Meer as vier dekades later is hulle ‘n integrale deel van Pakistan se landbou en sy kultuur. Voordat ‘n trekker vir plaaswerk of padwerk ingespan word, kry hy eers ‘n unieke Pakistanse oormaaksessie.

In ‘n dorpie in 'n landelike deel van Pakistan se Punjab-provinsie, werk ambagsmanne sy-aan-sy met mekaar en word daar gesweis, geverf en geplak om die trekkers met opvallende kunstegnieke te versier.

Een ambagsman, ene Abdul-Qadeer, sê sy klante hou daarvan “om mooi goed te hê en daarmee te pronk”.

Niks word ontsien om ‘n trekker soos ‘n ware kunswerk te laat lyk nie: helderrooi verf, weerkaatsende groen kettings, klokkies, kleurvolle linte. Selfs die rathefboom word met goue kleefband toegedraai. Skilderye van flesse gevul met pouvere versier die vensters. Reflektiewe plakkers word in klein, geometriese patrone gesny en op die vensterrame geplak. Veelkleurige, flikkerende ligte versier die agterkant.

Abdul-Qadeer sê dit neem vier mans sowat ‘n week om ‘n trekker soos dié aan mekaar te sit. “My klant se versoek was eenvoudig: Hy wil hê sy trekker moet die mooiste in die dorp wees, sonder enige gelyke.”  Lees meer heir.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.