Offbeat
Weird Wide Web - Terminator is terug!─── 15:13 Thu, 13 Apr 2023
Hier is nou die regte man om Sentraal Suid-Afrika se slaggate reg te maak.
Die Hollywood-akteur Arnold Schwarzenegger het ’n video van homself op sosiale media geplaas waar hy besig is om ’n slaggat in Brentwood, Los Angeles, op te vul. Die probleem is egter dat dit nie ’n slaggat was nie, maar ’n sloot wat ’n gasmaatskappy gegrawe het.
Die Terminator-ster sê motors en fietse is die afgelope paar weke beskadig weens die ‘slaggat’. Daarom het hy besluit om self iets aan die situasie te doen.
’n Woordvoerder van Los Angeles se stadsraad sê Schwarzenegger is verkeerd ingelig, want die maatskappy, SoCalGas, was besig met herstelwerk nadat storms skade aan die pad aangerig het. Die herstelwerk sou einde Mei voltooi gewees het.
Lees ook: Weird Wide Web - Om die wêreld in 80 dae op 81 jaar
SoCalGas is Amerika se grootste aardgasnutsmaatskappy.
Schwarzenegger het Dinsdag op Twitter gesê: “Ons kan nie net kla nie ons moet self iets aan die probleem doen.”
In die video stop ’n vrou langs hom en bedank hom.
“Jy is welkom,” antwoord Schwarzenegger haar.
“Dit is malligheid. Vir drie weke wag ek dat hierdie slaggat reggemaak word,” sê hy.
Schwarzenegger se woordvoerder, Daniel Ketchell, sê inwoners van Brentwood se versoeke dat die herstelwerk gedoen moet word, het op dowe ore geval.
