Offbeat
Snuffelhonde red bedreigde olyfbome in Italië─── 14:07 Wed, 07 Jun 2023
Alle hoop word op ‘n groep opgeleide snuffelhonde geplaas om die olyfbome in Italië van ondergang te red.
“Hy gehoorsaam slegs ’n opdrag indien daar ‘n beloning op hom wag”, sê Mario Fortebraccio, hondeafrigter in die provinsie Lecce. Hy kyk na die snuffelhond wat al snuifend tussen die olyfpotte deur hardloop. Hy ruik aan die onderkant van elke pot terwyl sy ritmiese inaseming duidelik hoorbaar is.
Paco, die driejarige labrador kom stertswaaiend aangehardloop na Fortebraccio en wag vir sy hondebeskuitjie. Hy en slegs ’n paar ander vierbeenkollegas vorm die Xylella-opsporingspan.
Paco en sy span snuffel olyfplante uit wat besmet is met die bakterie Xylella fastidiosa. Dié bakterie saai reeds sedert 2013 verwoesting onder olyfbome in die suide van Italië.

Olyfbome in die suide van Italië word deur bakterieë besmet. FOTO: Unsplash
Xylella, wat deur die Spittlebugsinsek versprei word, verstop die vate wat water vanaf die wortels na die blare van bome vervoer. Dié siektetoestand kan nie behandel word nie.
Die streek Puglia het die afgelope tien jaar reeds 21 miljoen van sy 60 miljoen olyfbome op hierdie wyse verloor.
In 2020 kom Nicola di Noia, direkteur van Unaprol, die grootste olyfolieprodusent in Italië met ’n briljante idee vorendag. Di Noia, vroeër verbonde aan die Italiaanse militêre polisie, het teruggedink aan die molekulêre opsporingshonde met hul uitsonderlike reukvermoë.
’n Hond se reuksintuig is 20 keer meer akuut as dié van ’n mens. ’n Nederlandse bioloog Adee Schoon verduidelik dat hierdie eienskap nie noodwendig van ’n hond ’n opspoorder maak nie. ’n Opsporingshond moet beskou word as ’n opgeleide spesialis wat reuke herken op dieselfde wyse as wat mense gesigte herken.

Snuffelhonde word in Italië gebruik om olyfbome te red. FOTO: Unsplash
Serena Donnini, hondeafrigter en koördineerder van die Xylella opsporingshonde, sê sekere rasse soos die spanjoel, Duitse herdershond en labrador is danksy hul groot neus en borsspasie, beter opsoringshonde as ander. Persoonlikheid speel egter ook ’n rol. Om sy finale eksamen as opsporingshond te slaag, moet die dier ook daarvan hou om te eet en te speel.
Donnini verduidelik dat beloning ’n belangrike rol in die opleidingsproses speel. Deur ’n bal raak te vang en sy kos te verorber, lei tot beloning. So ook, deur die bakterie uit te snuffel op die olyfplant en beloon te word, lei tot verdere aansporing.
Terwyl Italiaanse wetenskaplikes steeds die voorkoms van die bakterie bestudeer, is navorsers van mening dat die Xylella-opsporingshonde, soos Paco en Ellis, waardevolle instrumente in hierdie ondersoek is.
OFM Nuus/Elsabé de Jager
