Offbeat
Weird Wide Web - Toiletpapier kos $1,3 miljoen danksy goudvlokkies─── 15:17 Thu, 08 Jun 2023
'n Australiese maatskappy gaan die idee van 'n buitensporige lewe na 'n ander vlak neem met 'n eksentrieke nuwe produk - toiletpapier gemaak van goud!
Die toiletpapier wat bestaan uit 22 karaat goudvlokkies kos ’n allemintige $1,3 miljoen per rol. Die maatskappy, Toilet Paper Man, het nog net een van die luukse toiletrolle vervaardig en beweer dit is 100% bruikbaar en veilig.
Dit word in geskenkpapier toegedraai en word saam met ’n gratis bottel sjampanje persoonlik by jou voordeur afgelewer.
Die maatskappy het sy inspirasie vir die produk gekry by die toiletsitplekke in Dubai wat van goud gemaak is.
"Dit is die duurste rol toiletpapier ter wêreld en bestaan uit drie lae,” spog die maatskappy op sy webwerf.
"Soos jy die toiletpapier gebruik sal die goudvlokkies op die vloer val en jou agterent neem tot ’n ander vlak van elegansie,” word op die webwerf beweer.
Dit gee nuwe betekenis aan die idioom met jou agterent in die botter val.
