Offbeat
Weird Wide Web - Gorillas se skermtyd beperk─── 15:13 Wed, 12 Jul 2023
Die Toronto-dieretuin in Kanada vra besoekers om te help om skermtyd vir sekere primate te beperk deur nie aan hulle selfoonvideo's te wys nie.
Die dieretuin het bordjies buite die gorillas se skuiling geplaas waarin besoekers gevra word om nie foto’s of video’s op hul selfone aan die gorillas te wys nie. Die rede is dat die inhoud ontstellend kan wees vir die primate en hul verhoudings en gedrag binne gesinsverband kan beïnvloed.
Hollie Ross, toesighouer en gedragskenner by die dieretuin, sê hulle het nog geen beduidende gedragsveranderinge by die primate opgemerk nie, maar hulle wil verseker dat die diere se lewe so natuurlik as moontlik bly.
“Ons wil net hê die gorillas moet gorillas kan wees,” het sy aan CP24 gesê. "Wanneer besoekers na die dieretuin kom moet hulle in staat wees om gorillas in ’n natuurlike habitat te sien," sê sy.
“Nassir, een van die gorillas, toon 'n besondere belangstelling in die video's op besoekers se selfone. Nassir is in 2009 gebore en hy is mal oor die video's. Die skermtyd sou sy lewe oorheers as dit van hom afgehang het,” sê die dieretuin op sy webtuiste.
"Ons het baie mense gehad wat hul selfone teen die glas sit en vir hom video's wys," het Maria Franke, die dieretuin se direkteur van wildbewaring en -welsyn, aan The Toronto Star gesê.
Dit het veroorsaak dat hy nie meer interaksie met ander gorillas wou hê nie.
Ross sê Nassir en die ander gorillas word onder gekontroleerde toestande toegelaat om na dokumentêre rolprente en video's oor die natuur te kyk.
"Ons wil net seker maak dat ons die inhoud goedkeur. Dit is baie soos om ’n kind se skermtyd te beheer sodat jy kan weet waarna hulle kyk,” sê sy.
Lees meer: https://www.upi.com/Odd_News/2023/07/10/canada-Toronto-Zoo-cellphone-videos-gorillas/8931689006966/
