Offbeat
Weird Wide Web - 'Kom ons kyk Wêreldbeker-krieket eerder in hospitaal'─── 15:13 Thu, 27 Jul 2023
Indiese krieketaanhangers is desperaat opsoek na innoverende maniere om die Wêreldbeker-kragmeting op 15 Oktober tussen Indië en Pakistan in Ahmedabad te sien.
As jy lief is vir krieket in Indië dan maak jy slim planne om die Wêreldbeker se wedstryde in Oktober te sien. Hul oplossing? Om in daardie tyd in die hospitaal te wees omdat verblyf in hotelle se pryse drasties gestyg het.
Hotelverblyf in Ahmedabad, Gujarat, het sedert 27 Junie in sommige gevalle tot 70 000 roepee gestyg. Baie krieketliefhebbers kan dit nie bekostig nie.
Hospitale in die stede kry baie navrae van krieketliefhebbers wat een of twee nagte daar wil bly. Die koste vir die buitengewone verblyf wissel van 3 000 tot 25 000 roepee. Dit sluit in ’n omvattende mediese ondersoek en kos wat baie goedkoper is as hotelverblyf. Hospitaalkamers bied dieselfde geriewe as hotelle en in sekere gevalle kan die hospitaalkamer gedeel word. Hospitaalowerhede kla ook nie oor die toestroming van die “pasiënte” nie.
Dr. Paras Shah, direkteur van die Sannidhya-hospitaal, sê die enigste vereiste is ’n volledige mediese ondersoek en dat die persoon oornag in die hospitaal moet bly. Is dit nie beter as net ’n buffet-ontbyt by ’n hotel nie? Hospitale het selfs begin om spesiale pakkette saam te stel. Dr. Nikhil Lala, groep- mediese direkteur van die Sterling-groep sê: “Dit is alles danksy die wedstryd tussen Indië en Pakistan, so ons beplan nog ander gesondheidspakkette.” Neeraj Lal, uitvoerende hoof van die Apollo-hospitale, sê hulle is amper volbespreek vir die tweede week in Oktober vir volledige mediese ondersoeke. Klink of almal wen met die slim plan!
