Offbeat
Weird Wide Web – Wat van bloukaasbier vir Kersfees?─── 15:19 Tue, 19 Dec 2023
“Dit het ’n komplekse smaak, maar is nie kaasagtig of sterk nie.”
Twee maatskappye in die Amerikaanse deelstaat Oregon het saamgespan om ’n produk te skep wat nie in elke verbruiker se smaak sal val nie – niks anders as bloukaasbier.
Rogue Creamery en die Crux Fermentation Project het ’n soort Lambic-bier gebrou met Rogue River-bloukaas en dit vir byna twee jaar in eikehoutvate verouder. “Ek dink selfs diegene wat lief is vir bloukaas sal effens skepties wees,” het Marguerite Merritt van Rogue Creamery aan KOIN-TV gesê.
Larry Sidor, stigter en meesterbrouer van die Crux Fermentation Project, sê hy en sy hele span wou nie eintlik inkoop op die idee nie. “Die brouers het gelag toe ek hulle van die idee vertel en almal het gedink dit sal nie werk nie.” Maar sê hy dit is nogal ’n smaaklike brousel.
“Dit het ’n komplekse smaak, maar is nie kaasagtig of sterk nie. Dit is gebalanseerd en ná ’n paar slukkies kan jy die bloukaas proe. Ons is baie tevrede met die eindresultaat,” sê Merritt.
Die Crux Pub in Portland hou Vrydag ’n proegeleentheid vir bierliefhebbers.
