Offbeat
Weird Wide Web – Wie sê daar is nie plek vir ’n muis nie?─── 15:11 Tue, 09 Jan 2024
“Welsh Tidy Mouse werk meestal alleen.”
’n Wildfotograaf in Wallis het ’n kamera in sy gereedskapskuur opgestel om uit te vind hoekom voorwerpe rondbeweeg en ontdek ’n “netjiese muis” was besig om vir hom skoon te maak.
Rodney Holbrook (75) van Builth Wells sê die raaisel het begin met voëlkos wat hy in die skuur gebêre het wat in 'n ou paar skoene beland het.
Holbrook het die beeldmateriaal opgeneem van ’n muis wat in die nag kom kuier en dan kleiner items bymekaar maak en dit op die skinkbord op die rak plaas.
“Dit gebeur elke aand,” het Holbrook aan The Washington Post gesê. Die knaagdier, wat hy Welsh Tidy Mouse noem, werk meestal alleen maar soms kry hy hulp van twee ander muise.
Lees ook: Weird Wide Web – ‘Nostradamus’ se voorspellings vir 2024
“Ek doen nie die moeite om nou op te ruim nie, ek los goed uit die boks en hulle sit dit teen die oggend terug op sy plek,” het Holbrook aan die BBC gesê. Gareth Davies, stigter van Pest and Property Solutions, sê muise is “miniatuuropgaarders.”
“Muise is baie nuuskierig en hou daarvan om kos en alles anders op te gaar. Hulle is heeltemal anders as rotte.”
In 2019 het ’n muis ook ’n man se skuur in Bristol, Engeland, opgeruim. Heel toevallig het Holbrook die man gehelp om ’n wildkamera te herstel. “Daardie video van die muis is wyd op sosiale media versprei. Ek kan nie glo dieselfde het hier in Builth Wells gebeur nie.”
