Offbeat
Weird Wide Web – Hier bly mense bo die wolke─── 15:21 Mon, 25 Mar 2024
“Hul liggaam het ontwikkel om twee keer meer bloedselle as ons s’n te vervaardig.”
Ruhi Çenet, dokumentêre vervaardiger, het ’n besoek aan die “naaste dorp aan die ruimte” gebring. La Rinconada in Peru word beskou as die naaste bewoonde gebied aan die ruimte. Dit is glo waar mense bo die wolke woon. Çenet het meer as agt miljoen intekenare op YouTube en is bekend daarvoor dat hy graag plekke besoek wat moeilik bereikbaar is.
Hy was al in 65 lande op ses vastelande. Sy video oor Peru is sedert Desember al meer as 30 miljoen keer gekyk. “Op hierdie uiterste hoogte van 5 100 meter word die atmosfeer aansienlik dunner en leef die inwoners met net 50% van die gewone suurstofvlakke.
“Hul liggaam het ontwikkel om twee keer meer bloedselle as ons s’n te vervaardig. Op hierdie dorre land kan geen boom oorleef nie weens die lae lugdruk, sê hy. Die dorp is in die Andesgebergtes en is is selfs 300 meter hoër as Mont Blanc – die hoogste piek in die Europese Alpe. “Ver van die moderne wêreld is dit ’n plek waar misdaad en gevaar altyd naby is.”
Çenet sê hy het duiselig gevoel die oomblik toe hy daar aankom en die volgende oggend was hy baie moeg asof hy in dae nie geslaap het nie. Die droë lug veroorsaak ’n seer keel en gebarste lippe.
Dit was somer toe hy die dorp besoek het maar die paaie was vol ys en dit het baie gestink. Die mense bly in metaalhutte sonder elektrisiteit al daal die temperatuur in die winter tot -10 °C.
Lees ook: Potchefstromer trap Bloubergstrand toe vir viervoetige vriende
Hulle het nie lopende water in hul huise nie en gebruik openbare badkamers en storte. Die enigste rede waarom mense hier bly is vir mynbou en hul soektog na goud. Hier bly sowat 50 000 mense tussen al die hope rommel.
