On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night OFM
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Offbeat

Dieretuin verf honde om na pandas te lyk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:52 Fri, 17 May 2024

Dieretuin verf honde om na pandas te lyk | News Article
Een van die “pandahonde”. Foto: X

“Om die illusie van pandas te skep, het die personeel die honde se pels geskeer en hulle swart en wit gekleur sodat hulle na klein pandas lyk.”

’n Dieretuin in die ooste van China het honde geskeer en swart en wit geverf om na pandas te lyk om glo hul besoekersgetalle op ’n vakansiedag op te stoot.

Die foppandas is op 1 Mei in die Taizhou-dieretuin in Jiangsu verfilm nadat hulle “Xiong Mao Quan” (“pandahonde”) geadverteer het, berig New York Post.

Die “pandahonde” was in werklikheid Chinese keeshonde, ’n ras wat bekend is as ’n stewig geboude hond, vierkantig in profiel, met ’n breë skedel en klein, driehoekige en regop ore. Die ras is bekend vir ’n baie digte dubbelpelslaag, wat óf glad of grof kan wees.

Om die illusie van pandas te skep, het die dieretuinpersoneel die honde se pels geskeer en hulle swart en wit gekleur sodat hulle soos klein pandas lyk. Die “pandas” was daagliks van 08:00 tot 17:00 by die dieretuin te sien.

Besoekers was egter woedend toe hulle besef die pandas is honde. Die dieretuin is van dieremishandeling en misleiding beskuldig, berig Strait Times. Die dieretuinpersoneel het hul besluit probeer regverdig en gesê die kleurstof wat op die honde gebruik is, is nie giftig nie en skadeloos vir diere.

’n Woordvoerder van die dieretuin het aan New York Post  gesê as mense hulle hare kan kleur, kan diere ook.

Chinese keeshonde, ’n ras wat bekend is as ’n stewig geboude hond, met ’n breë skedel en klein, driehoekige en regop ore. Foto: American Kennel Club

Nog ’n personeellid het gesê weens die dieretuin se grootte kan hulle nie regte reusepandas akkommodeer nie. “Op hierdie manier kan ons ’n prettige aktiwiteit by die dieretuin byvoeg en besoekersgetalle opstoot,” het hy aan Jiangsu News gesê.

’n Kennisgewing wat buite die hondehok geplaas was, het glo gelui pandahonde is nie ’n amptelike honderas nie. “Hulle is óf gewone troeteldierhonde wat versorg is om soos pandas te lyk óf natuurlik gebore met bont patrone wat ’n mens aan pandas herinner. Hierdie honde het tipies wit pels met kenmerkende swart merke om hul oë en ore, wat die ikoniese kenmerke van pandas weerspieël.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.