Offbeat
Akkedis sonder pote sorg vir opwinding in Bloemfontein─── KAREN VAN DER BERG 10:02 Fri, 07 Jun 2024

"Dit was vir haar spesiaal omdat sy lief is vir diere en goggas."
Opwinding heers in natuurliefhebberskringe oor ’n ongewone reptiel wat onlangs in Bloemfontein gewaar is, want dis slegs die sewende keer in elf jaar dat iemand die Kaapse wurmakkedis in die Vrystaatse hoofstad teëkom.
Karlien van Heerden (40) van Groenvlei sê sy is lief vir die natuur en diere. Sy was in haar tuin besig toe sy eers dink sy sien ’n pers plastiekpypie. “Ek het die storie so gekyk en toe lyk dit vir my asof die sand beweeg. Ek besef toe die dingetjie is lewendig en moes gespartel het.”
Die wurmakkedis het sy verskyning in Groenvlei, Bloemfontein gemaak. Foto: Karlien van Heerden
Van Heerden sê sy het bietjie aan die ding getrek en gesien miere is besig om hom weg te dra. “Hulle het seker gedink hier is ’n lekker kossie vir die winter.” Sy het die miere afgehaal.
“Ek het ’n foto en video van hom geneem. Hy was vir my interessant omdat hy so pers is.” Van Heerden sê sy het op ’n Facebook-groep gevra wat dit is. “Daar was baie raaiskote maar op die einde het twee kundiges hom reg identifiseer.”
‘Hulle kom ook nie in stedelike gebiede voor nie’
Dit was vir haar spesiaal omdat sy lief is vir diere en goggas. “Dit is ongewoon om ’n Kaapse wurmakkedis in Bloemfontein te gewaar,” sê dr. Cora Stobie, senior herpetoloog aan die Nasionale Museum in Bloemfontein. Nie omdat hulle nie hier voorkom nie, maar omdat hulle ondergronds woon en min mense hulle ooit sien. Hulle kom ook nie in stedelike gebiede voor nie.”
Die wurmakkadis bly meestal ondergronds. Foto: Karlien van Heerden
Sy sê die akkedis is net ses keer vanaf 2013 tot 2022 hier gesien. “Dit lyk soos ’n wurm of ’n slang, maar dit is ’n akkedis sonder bene en arms.”
“Wat hierdie keer se besigtiging daarvan besonders maak, is die goeie gehalte van die opname daarvan. Dit wys vir ons die spesie is lewend, floreer, is gesond en vaar goed.” Daaroor is hulle opgewonde.
‘Kaapse wurmakkedis is in Groenvlei gevind’
Stobie sê hoewel die naam verwarring kan skep, kom die wurmakkedis in Bloemfontein voor. Wanneer mense vreemde diere of insekte sien, moet hulle kundiges laat weet daarvan en foto’s neem. Sy en ’n kollega behartig die Facebook-groep Free State Reptiles and Amphibians (including adjacent areas and Lesotho), waar kundiges meer inligting kan gee.
Die Kaapse wurmakkedis is onlangs in Groenvlei in Bloemfontein gevind.