Offbeat
Weird Wide Web – Oupa se slim plan in wiele gery─── 15:45 Mon, 13 Oct 2025

In ’n poging om sy kleinseun met ’n probleem te help, het ’n man (60) in Guadeloupe die onverwagte ding gedoen!
Hier is nou ’n nuwe manier om tyd saam met familie in die tronk deur te bring. Die oupa het besluit die maklikste manier om sy kleinseun in die tronk te sien is om self in die tronk te beland.
So, oupa sit sy klapmus op, vat ’n geweer en stap sommer in by ’n supermark naby die polisiekantoor. Hy eis geld, maar vat sommer ook vir hom ’n stukkie Emmentaler-kaas en ’n bottel wyn. Netjies, nè?
In plaas daarvan om te vlug, stap hy rustig terug na sy motor en wag om in hegtenis geneem te word. Hy was nie eers vir die geld daar nie hy wou net in die tronk kom om sy kleinseun te help wat geboelie is.
In die hof het die regter gesê dis een van die vreemdste sake nog en besluit om hom nie tronk toe te stuur nie. Oupa moet nou berading kry, die slagoffers vergoed, en weg bly van die winkel af. Hy mag wel sy kleinseun wettig in die tronk besoek.
OFM dg