Offbeat
Weird Wide Web – Namibiese Adolf Hitler wen weer─── 15:20 Wed, 03 Dec 2025
’n Namibiese politikus het weer opslae gemaak nadat hy met ’n reusemeerderheid verkies is. Die rede vir die internasionale belangstelling? Sy naam.
Adolf Hitler Uunona (59) is al jare lank ’n bekende plaaslike raadslid en het in 2020 die Ompundja-wyk met 85% van die stemme gewen. Met Namibië se plaaslike verkiesings op 26 November agter die rug, lyk dit of hy weer ’n oorwinning met ’n groot marge behaal het.
Uunona gebruik selde die “Hitler”-deel van sy naam in die openbaar en sê sy pa het bloot nie geweet wie die oorspronklike Adolf Hitler was toe hy die naam gekies het nie.
Hy sê aan die Duitse koerant Bild: “Toe ek ’n kind was, was dit vir my heeltemal normaal. Eers as tiener het ek agtergekom hierdie man wou die wêreld verower.”
Om sy naam nou te verander, sê hy, sal bloot te veel administratiewe hoofbrekens veroorsaak. Dit verskyn immers al vir dekades lank op amptelike dokumente.
Plaaslik word hy egter nie met die Nazi-leier geassosieer nie. Inwoners ken hom as ’n voormalige anti-apartheidsaktivis en toegewyde leier in Namibië se regerende SWAPO-party.
Hy maak selfs grappies oor sy naam. “Omdat ek hierdie naam het, beteken dit nie ek wil Oshana onderdruk nie,” skerts hy.
Hoewel Duitse name algemeen is in Namibië weens die land se koloniale geskiedenis, trek dít natuurlik wêreldwye aandag. Veral ná ’n motor met “Adolf Hitler” en ’n swastika in sy streek in 2020 gesien is.
Uunona verduidelik vinnig: “Daardie kar was beslis nie myne nie.”
