Offbeat
Perdry, ghongskiet en ander gewilde tydverdrywe in die Kalahari─── SUSAN MARÉ 11:42 Fri, 22 May 2026
Die Kalahari se mense is bedrywiger as wat ’n mens dalk sou vermoed. Perderitte en ’n ghongskietkompetisie was die afgelope tyd in die kollig.
Van Zylsrus se perderuiters het ondanks die Kurumanrivier se oorstromings op die dorp en die afstel van die Geoglief-fees besluit die beplande perderit sou voortgaan.
’n Jaarlikse perderit op die dorp is ’n ou tradisie, vertel Jaap Schreuders, wat die leisies hou by die perderitte. ’n Jong dominee op Van Zylsrus het glo op ’n keer tydens ’n perderit gesê: “Dis darem gesonde vermaak in die natuur …”
Jaap sê die doel van die jaarlikse perderit is om jong mense die geleentheid te bied om ’n liefde vir perdry te ontwikkel en hulle ’n kans te gee om van die stad en sy geraas te ontvlug.
Hoewel die Kalahari hoofsaaklik bekend is vir bees-, skaap- en wildboerdery, speel perdeboere en -telers ’n baie spesifiek en geskiedkundige rol in hierdie unieke, semi-woestynagtige omgewing.
Perde hier kom geskiedkundig ’n ver pad. Die Suid-Afrikaanse regering het tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) byvoorbeeld gevegspatrollies te perd deur die Kalahari gestuur om grense te beveilig.
Volgens oorlewering is die eerste van die Kalahari se lewensnoodsaaklike boorgate langs die droë beddings van die Nossob- en Auobrivier geboor. Baie van vandag se plase en suipings het hieruit ontstaan.

Alwyn en Francien Noëth. Foto verskaf
Perde se rol is groot in ’n wêreld wat uit massiewe rooi sandduine en uitgestrekte savannas bestaan. Voertuie is dikwels onprakties om vee in die verre uithoeke van kampe te gaan haal. Perde word ook ingespan deur boere en hul arbeiders om drade te gaan inspekteer, waterpunte na te gaan en wild te monitor.
Deesdae het moderne Kalahari-plase gediversifiseer en bied nou selfs perdesafari’s vir toeriste aan. Dit is vir ruiters gewoonlik uitsonderlik om die duine, kameeldoringbome en wild vanaf ’n perd se rug te ervaar.
Die afgestelde Geoglief-fees weens oorstromings het dan dié positiewe ligpunt en aktiwiteit gehad. Families en vriende het vroegoggend opgewonde bymekaargekom, oorgehaal vir ’n dag vol avontuur, vars lug en lekker kuier.

Jaap Schreuder, organiseerder van perderitte. Foto verskaf
Francien Noëth van Van Zylsrus het ook aan die perderit deelgeneem. Sy sê die groen Kalahari was die perfekte agtergrond vir ’n onvergeetlike perderit waar oud en jonk saam die natuur kon geniet.
Die kleinspan het hul eie spesiale avontuur beleef. ’n Muilkar, sorgsaam ingerig met komberse en kussings het die kinders veilig vervoer. Die gelag en opgewondenheid van die kinders het oor die veld weerklink. Hulle het die rit geniet en die perde rondom hulle bewonder.
Die groen bossies, sagte sandpaaie en helder blou lug het die dag besonders gemaak, voeg Francien by. “Oral was ’n gevoel van rustigheid en vryheid wat net die Kalahari kan bied. Onderweg is gereeld stilgehou om asem te skep, stories te vertel en die mooi omgewing in te neem.

Jozef-Adriaan van Eeden en sy perd. Foto verskaf
“Halfpad het almal by ’n rustige kampplek saamgetrek waar vleis gebraai is. Die geur van die vuur en braaivleis het almal se eetlus wakker gemaak. Die vrolike klanke van kinders wat speel, lag en mense wat kuier terwyl die perde rustig was, het die dag spesiaal gemaak.
“Die dag was veel meer as net ’n perderit – dit was gehaltetyd saam met familie en vriende. Sulke oomblikke herinner mens net weer hoe kosbaar eenvoudige saamwees in die natuur is.”
‘Die idee … het ontstaan toe hy die eerste keer op die plaasduin gestaan
en oor die Kalahari uitgekyk het’
Ghongskiet is nog ’n gewilde tydverdryf. Die Keesi Ghong Challenge 2026 is Saterdag (16/5) vir die sesde keer op die plaas Zunkie met Hein en Marliza Booysen as gasheerpaar in die rooi duine van Van Zylsrus gehou.
Dit was ’n besonderse geleentheid, vertel Pieter van der Westhuizen, organiseerder. Die idee hiervoor het ontstaan toe hy die eerste keer op die plaasduin gestaan en oor die Kalahari uitgekyk het.
“Ek het dadelik besef die terrein is ideaal vir ’n Kalahari-veldskietkompetisie. Kort daarna het ek begin werk maak daarvan en die eerste Keesi Ghong Challenge het in 2021 plaasgevind. Dit bestaan uit veldskiet-items, asook langafstandbane, wat tot oor 900 m strek.”

Van Zylsrus se perderuiters. Foto verskaf
Pieter sorg jaarliks dat die baan vars en uitdagend bly deur veranderinge en nuwe elemente by te voeg. Vanjaar se gesprekspunt was ’n bewegende teiken in die vorm van ’n vlakvarkplaat wat met swaartekrag teen ’n kabel af teen die duine beweeg het. Dit het groot opgewondenheid veroorsaak.
Omdat die kompetisie so gewild is, moet die deelnemers tot 120 skuts beperk work. Deelnemers reis selfs uit Windhoek, Pretoria en Bloemfontein, terwyl plaaslike skuts en boere ook sterk ondersteuning bied.
Kaap Agri het verlede jaar as hoofborg betrokke geraak. Volgens die organiseerders is dit ’n voorreg om betrokke te wees en die kompetisie verder uit te bou.

Francien sê: “Alle eer vir die organisering en aan Pieter en die lojale skuts wat die byeenkoms jaar ná jaar ondersteun. Vanjaar se kompetisie was besonders – vanaf die duine strek die pragtige groen Kalahari voor jou uit, en as jy omkyk, vloei die bekende Kurumanrivier rustig deur die landskap.
“Dit is juis hierdie unieke kombinasie van natuur, uitdaging en kameraderie wat die Keesi Ghong Challenge jaarliks ’n hoogtepunt op baie skuts se kalender maak. En natuurlik die Kalahari en sy kosbare mense.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.
