Offbeat
Weird Wide Web – Ouers neem beheer oor dogter se sosiale media─── 16:00 Wed, 11 Nov 2026
’n Tienermeisie het ’n besluit geneem waaroor sy dalk vir die res van haar tienerjare spyt sal wees, want haar ouers het haar sosialemediarekeninge in hul eie persoonlike speelplek verander.
Madelynn Sumpter (15) het in die moeilikheid beland nadat sy die reëls by ’n oorslaappartytjie oortree en seuns sonder haar ouers se toestemming ingesmokkel het. Haar ouers, Tawnya Ford en Larry Sumpter, het haar twee keuses gegee: Sy kon haar selfoon vir ’n maand inhandig, óf hulle kon vir twee weke beheer oor haar sosialemediarekeninge oorneem.
Sy het natuurlik gedink die tweede opsie klink heelwat beter. Wat kan dan nou verkeerd loop? Wel, nogal baie – veral as jou pa betrokke is! Haar ouers het die oorname op Instagram aangekondig en belowe dat volgelinge ’n paar vermaaklike plasings, Snapchat-opdaterings en TikTok-video’s van die ouerlike span kon verwag. En Pa Larry het beslis dié belofte gestand gedoen!
Sy eerste poging was ’n selfie met die byskrif: “Felt cute. Might delete later.” Wat reeds genoeg is om enige 15-jarige se bloeddruk te laat styg wanneer haar pa dit vir al haar vriende plaas.
Maar Larry het nog lank nie klaar gespeel nie. Hy het in ’n stywe toppie geposeer, ’n blonde pruik opgesit en selfs ’n kort denim-broekie saam met ’n moulose hemp aangetrek om saam met sy skoonseun te dans. Daar was blykbaar geen vlak van vernedering wat hom sou keer nie!
Ná net een dag het Madelynn reeds van plan verander. Sy het haar ouers gesmeek om eerder die oorspronklike straf toe te pas en haar selfoon vir ’n maand weg te neem. Maar Pa Larry wou niks daarvan weet nie.
Haar ma het aan TODAY.com vertel dat Larry so betrokke geraak het by sy nuwe sosialemedialoopbaan dat hy geweier het om op te hou. Hy het glo te veel idees gehad en was vasbeslote om die volle twee weke klaar te maak. Hy het selfs oorweeg om daarna sy eie TikTok-rekening te begin!
Lees ook: Weird Wide Web – Kan ’n KI-kletsbot jou verhouding help?
En hier kom die regte kinkel in die verhaal: Terwyl Madelynn desperaat gewens het haar ouers wil ophou om haar in die verleentheid te stel, het haar volgelingetal die hoogte ingeskiet. Haar Instagram-volgelinge het glo tydens die oorname van ongeveer 2 700 tot 12 700 gegroei. Dis ’n toename van sowat 10 000 volgelinge – danksy juis die mense van wie sy probeer wegkom het.
Haar ouers sê hulle geniet dit om hul kinders in die verleentheid te stel, en Larry het blykbaar die gewoonte om die kinders ná skool in ’n gelukbringer-uitrusting te gaan haal terwyl country-musiek behoorlik kliphard speel. Die les hier? Wees versigtig watter straf jy kies. Jy dink dalk jy red jou selfoon, maar jy kan per ongeluk jou pa in ’n internetsensasie verander!
En Madelynn se volgelinge het net een versoek: Bring Pa terug! Eerlikwaar, op hierdie stadium gaan sy hom dalk huur moet vra omdat hy op haar Instagram-rekening bly woon.
Lees meer sm
