Rugby
Danie Gerber: Die beker is WP s'n─── 08:20 Fri, 29 Oct 2010

Kaapstad - Die Springbok-legende, Danie Gerber, sit sy geld op die Westelike Provinsie om as vanjaar se Curriebeker-kampioene gekroon te word.
"WP het die spoed en die vaardighede in die agterlyn om die Haaie bekommerd te maak. Die balle wat die Streeptruie kry moet dadelik agterlyn toe," het Gerber gesê.
"Die Haaie het my beïndruk met die manier hoe hulle die bal van die Bulle kon weghou in die Curriebeker-halfeindstryd. Ek dink hulle gaan dit weer met die WP probeer doen. As 'n span nie balbesit kry nie raak spelers gefrustreerd en dit is wanneer strafskoppe afgestaan word," het hy bygevoeg.
Gerber dink nie dit sal die WP veel pla om weg van hul tuisveld te speel nie. "Dit is dieselfde veld vir beide spanne en as jy op jou sterkpunte konsentreer gaan die toeskouers nie saak maak nie," het hy gesê.
Afskop Saterdag in Durban is om 17:30. - sport24