On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Onthul ‘privaat gesprek’ Poetin wil vir ewig leef?

───   14:45 Fri, 05 Sep 2025

Onthul ‘privaat gesprek’ Poetin wil vir ewig leef? | News Article
Pres. Wladimir Poetin van Rusland, China se pres. Xi Jinping en die Noord-Koreaanse leier Kim Jong-oen was saam by die militêre parade. Foto: X

Dit gons wêreldwyd oor ’n “privaat” gesprek tussen die Russiese en Chinese presidente oor orgaanoorplantings en onsterflikheid wat per abuis vasgevang is deur ’n “warm mikrofoon” tydens ’n militêre parade in Beijing.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland se spontane opmerkings teenoor die Chinese leier, Xi Jinping, het opnuut die aandag gevestig op wat beskou word as sy langdurige obsessie met teenverouderingstegnologie.  Albei leiers, 72 jaar oud, kon gehoor word terwyl hulle, deur tolke, die moontlikheid bespreek om tot 150 jaar oud te word.

Poetin het beweer biotegnologie kan mense “jonk maak terwyl hulle ouer word” en selfs “onsterflik”. Sy belangstelling daarin om lank te lewe spruit uit meer as net persoonlike ydelheid, dit is ook polities van aard, sê waarnemers.

Kenners meen sy huiwering om ’n opvolger aan te wys het sy gesondheid ’n saak van politieke en nasionale stabiliteit laat word. Die Russiese staatsmedia beeld hom gereeld uit as onvermoeid en onvervangbaar, wat die beeld van ’n eenman-regime versterk.

Driemanskap: Pres. Wladimir Poetin van Rusland, China se pres. Xi Jinping en die Noord-Koreaanse leier Kim Jong-oen. Foto: X

Jeff Hawn van die London School of Economics meen Poetin beskou homself as ’n messiaanse figuur wie se teenwoordigheid noodsaaklik is vir Rusland se voortbestaan.

In 2024 het Poetin navorsing oor teenveroudering as ’n nasionale prioriteit verklaar, en tegnologieë soos 3D orgaan-afdrukke en neurotegnologie bevorder. 

Die inisiatief word gelei deur Michail Kovaltsjoek, ’n 78-jarige fisikus en noue bondgenoot, wat glo die behaling van onsterflikheid is nie onmoontlik nie. Sy span sluit Poetin se dogter, die endokrinoloog Maria Worontsowa, in.

Vrae oor Russiese toekoms

Kritici beskou die program as ’n ydelheidsprojek vir ’n verouderende elite, veral te midde van die oorlog in Oekraïne wat die lewens van baie jong Russe verkort het. Mediese kenners is skepties oor die wetenskaplike waarde en maatskaplike nut daarvan.

Poetin se ideale van ’n tegnologiese utopie vind weerklank in oortuigings uit die Sowjet-era dat die wetenskap alle probleme kan oplos. 

Uiteindelik weerspieël Putin se strewe om lank te lewe diepe kommer oor opvolging, mag en sterflikheid – wat vrae laat ontstaan oor die toekoms van Rusland se leierskap.

Bronne: Frans24, BBC

OFM Nuus cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.