On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Israeliese lugaanval in Doha wyd veroordeel

───   15:20 Wed, 10 Sep 2025

Israeliese lugaanval in Doha wyd veroordeel | News Article
Rook styg op ná die lugaanvalle in Doha, Katar. Foto: X

Internasionale veroordeling neem toe ná Israel se ongekende lugaanval op Hamas-leiers in die Katarse hoofstad, Doha, Dinsdagmiddag (9/9).

Die aanval, uitgevoer deur 15 vegvliegtuie en tien missiele, het verskeie ontploffings in ’n enkele kompleks veroorsaak. Hamas het bevestig dat ses mense dood is, maar beweer dat geen senior leiers onder die slagoffers was nie.

Premier Benjamin Netanyahu het die aanval verdedig as “volledig geregverdig” en gesê die teiken was die argitekte van die 7 Oktober 2023-aanval wat die huidige oorlog in Gasa ontketen het. Tog is daar toenemende onsekerheid in Israel se militêre geledere oor die sukses van die operasie, met berigte dat slegs minder senior Hamas-amptenare gedood is.

Die kompleks wat aangeval is. Foto: X

Katar het die aanval as ’n “flagrante skending” van internasionale reg veroordeel en aangekondig dat ’n regspan aangestel is om Netanyahu se moontlike aanspreeklikheid te ondersoek. 

Die aanval het Hamas se gevoel van veiligheid in Doha geskud en vrae laat ontstaan oor streeksveiligheid en diplomatieke norme.

Pres. Donald Trump van die VSA het sy frustrasie met die aanval uitgespreek en gesê hy is “nie beïndruk nie”. Hy het eers van die aanval gehoor terwyl dit plaasgevind het. Hy het wel herhaal dat die uitskakeling van Hamas ’n “geldige doelwit” is. 

Sanksies voorgestel

Israel se ambassadeur by die VN, Danny Danon, se kommentaar is: “Ons tree nie altyd op in die belang van die VSA nie.”

Ursula von der Leyen van die Europese Kommissie het voorgestel dat steun aan Israel opgeskort word, insluitend sanksies teen ekstremistiese ministers. Israel se minister van buitelandse sake het die voorstel as “onaanvaarbaar” bestempel.

Die Doha-aanval het ’n diplomatieke krisis ontketen en die konflik na nuwe, gevaarlike terrein geneem.

’n Lugfoto van Gasa-stad wat vandeesweek geneem is. Foto: X

Intussen het Israel sy militêre veldtog in Gasa-stad verskerp, met nog ’n hoë gebou wat Woensdagoggend (10/9) vernietig is. Israel beweer die toring is deur Hamas vir intelligensie-doeleindes gebruik. 

Pamflette wat oor die stad versprei is, waarsku inwoners teen ’n komende grondoffensief en maan hulle om die gebied te verlaat.

Israel Katz, minister van verdediging, het op sosiale media gewaarsku dat Hamas vernietig sal word indien hulle nie die oorblywende gyselaars vrylaat en ontwapen nie.

Bron: BBC

OFM Nuus cv/mvhs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.