Rugby
Serfontein verlaat Blou Bulle vir die Goue Leeus─── 15:51 Tue, 11 Jan 2011

Pretoria. - Die hoogaangeskrewe afrigter van die Vodacom Blou Bulle, Nico Serfontein, is toestemming gegee om met onmiddelike effek by die Guma Groep, ‘n aandeelhouer van die Goue Leeus Rugbyunie, aan te sluit.
Serfontein het nog ‘n kontrak met die Blou Bulle Maatskappy gehad tot einde Oktober vanjaar, maar is vrygespreek van verdere verpligtinge ná hy dit in gesprekke met die BBM versoek het.
Volgens die BBM se hoofbeampte, Barend van Graan, is die besluit om Serfontein te laat gaan, geneem weens die afrigter se uitstekende vertoningslys vir die unie.
“Nico was nege jaar lank deel van die unie en word wyd daarbinne gerespekteer vir sy professionaliteit en puik diens wat hy in dié tyd gelewer het. Ons het dus besluit om nie in sy pad te staan nie en hy kan dadelik sy nuwe posisie inneem.”
Van Graan erken Serfontein se vertrek gaan ‘n verlies vir die BBM wees, aangesien hy deel was van die afrigtingstruktuur wat 18 nasionale bekers in nege jaar gewen het.
“Dit is jammer om hom te groet, maar ons verstaan sy redes waarom hy wil weggaan. Ons weet ook hy sal suksesvol wees in sy nuwe pos en wens hom alles van die beste toe. Ons wil graag van die geleentheid gebruik maak om hom te bedank vir sy ongelooflike bydrae oor die laaste dekade,” het Van Graan gesê.
Serfontein se opvolger sal so spoedig moontlik aangewys word.
Serfontein sal in beheer staan van Guma se Rugby Akademie, wat in samewerking met die GLRU bedryf word.
“Ek sal altyd dankbaar wees vir die nege jaar saam met die Blou Bulle,” het Serfontein gesê.
“Ons het heel onder begin in 2001 en om 18 titels in nege jaar te kon wen was baie bevredigend, maar meer so om te kon sien hoe die Bulls hulself as een van die wêreld se beste spanne vestig. Dié sukses het egter ‘n bottelneksituasie vir die afrigters beteken en daarom is ek gretig om die nuwe uitdaging te gebruik vir groei en verdere ontwikkeling. Ek het alles bereik wat ek kon by die Blou Bulle. Ek verlaat die unie met groot dankbaarheid en tevredenheid,” het Serfontein gesê. - Blou Bulle