South Africa
Luukse eiendom van R27 miljoen met Nasionale Lotery-fondse gekoop─── HEIDRÈ MALGAS 15:15 Mon, 27 Jun 2022
’n Luukse eiendom en meubels is gekoop met miljoene wat aanvanklik deur die Nasionale Loterykommissie aan gemeenskapsprojekte in die Noordwes en Limpopo toegeken is.
Dié luukse eiendom, wat na bewering met geld van die kommissie gekoop is, is gevries nadat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ’n bewaringsbevel van die Spesiale Tribunaal gekry het.
Volgens die woordvoerder van die SOE, word die luukse eiendom deur Vhutanda Investments besit, 'n private maatskappy van Alfred Nevhutanda, wat 'n Vhutanda-direkteur én voorsitter van die loterykommissie se direksie was toe die eiendom van R27 miljoen in 2018 gekoop is.
"Die SOE se ondersoek het aan die lig gebring dat die verkryging van die eiendom deur die nie-winsgewende organisasie befonds is met geld wat van die kommissie ontvang is," het hy gesê.
Hy het verder bygevoeg dat Nevhutanda 'n lid was van die komitee wat toelaes aan vyf nie-winsgewende organisasies goedgekeur het, ten bedrae van meer as R100 miljoen. Onmiddelik nadat hulle die betalings ontvang het, is die geld aan 'n regsfirma oorbetaal en is die huis en meubels gekoop.
"Nevhutanda en Vhutanda Investments word nou verbied om die onroerende eiendom en die meubels te verkoop, weg te gooi, te verhuur, oor te dra, te skenk of te verhandel, en die SOE sal siviele stappe teen Nevhutanda en Vhutanda neem," het Kganyago gesê.
Volgens Jacaranda FM was die doel van die toelaes, projekte met gemeenskapsopheffing ten doel, soos 'n atletiekbaan in Noordwes en Mpumalanga, ouetehuise in Noordwes en Limpopo, en 'n rehabilitasiesentrum in Soshanguve.
