South Africa
Shoprite se eerste elektriese vragmotor gloei in die donker─── 17:12 Tue, 29 Nov 2022

Die Shoprite-groep, wat die Checkers-winkelreeks besit, is die eerste kleinhandelaar in Suid-Afrika om ’n elektriese vragmotor by sy afleweringsvloot te voeg.
Die Scania 25P word uitsluitlik deur batterye aangedryf en laat dus geen skadelike koolstofdioksiedgasse vry nie, wat die maatskappy se pogings om sy omgewingsimpak te verminder, 'n hupstootjie gee.
"Die verkoelde vragmotor kan ongeveer 16 palette hou, het nege batterye, sonpanele op sy dak, en 'n ten volle elektriese verkoelingstelsel wat ook deur die batterypakke van die voertuig aangedryf word," sê Shoprite in 'n mediaverklaring.
Dit word deur twee elektriese motors met 'n gekombineerde uitset van 850kW en 624kWh-batterymodule aangedryf en kan binne 90 minute op 'n 375kW-prop gelaai word.
Met 'n maksimum reikafstand en laaivermoë van onderskeidelik 350km en 64 ton, sal die Scania hoofsaaklik vir plaaslike aflewerings gebruik word. Dit word met hernubare energie wat deur die groep se bestaande sonkraginstallasies opgewek word, herlaai.
Terwyl talle elektriese vragmotors reeds op Suid-Afrikaanse paaie rondry, is Shoprite se Scania een van, indien nie die eerste, swaardiensvragmotors in die land wat slegs deur elektrisiteit aangedryf word.
Shoprite het spesiaal vervaardigde gloei-in-die-donker-tekens op die Scania aangebring om dit meer sigbaar in die nag te maak, aangesien dit baie stiller as gewone brandstof-aangedrewe vragmotors is.
Die 28-jarige Robin Jooste van Mitchells Plain is aangewys om dit te bestuur.