On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Jong PowerBall-wenner wil aftree ná R72 miljoen-boerpot

───   18:10 Thu, 12 Jan 2023

Jong PowerBall-wenner wil aftree ná R72 miljoen-boerpot | News Article
Die gelukkige PowerBall-wenner met haar boerpot-tjek. FOTO: Ithuba

’n 28-jarige inbelsentrumagent van Pretoria is Suid-Afrika se eerste PowerBall-multi-miljoenêr van 2023, nadat sy meer as R72 miljoen met Dinsdag, 10 Januarie se trekking gewen het.

Sy is ook van die jongste lotery-multi-miljoenêrs tot dusver en danksy dié gelukskoot kan sy nou op haar jeugdige ouderdom aftree.

Sy het in 2013 deur 'n leerlingskapprogram by die versekeringsbedryf aangesluit, maar wou nog altyd ‘n loopbaan in die regte volg.

Gevra oor haar planne met haar nuutgevonde fortuin, het sy beklemtoon dat sy beslis haar lewenstyl gaan opgradeer en haar en haar gesin met die beste gaan trakteer.

"Ek sal beslis 'n motor koop wat meer in lyn is met my nuwe lewe, ek wil 'n huis vir my gesin koop, en sien daarna uit om ’n meer spoggerige leefstyl te volg.”

"Ons wou nog altyd as 'n gesin na Frankryk en ander Europese lande reis," voeg sy by.

Sy het haar loterykaartjie deur middel van haar FNB-app gekoop en kon dit nie glo toe 'n agent haar geskakel het met die nuus dat sy “meer as R250 000 gewen” het en na Ithuba se kantoor moes gaan om haar wengeld op te eis nie.

“Ek het eerlikwaar gedink die telefoonoproep was ’n bedrogspul. Ek het ook nie geglo dat daar wel mense is wat miljoene rande van die Nasionale Lotery wen nie, want hulle is altyd anoniem en hul identiteite word weggesteek wanneer hulle foto's met die tjek neem.

“Ek het geglo dat mense net honderd-duisende rande wen, maar nooit miljoene nie,” sê sy.

“Maar nou glo ek dit. Ek het nou ook ervaar hoe dit moontlik is dat iemand se lewe in 'n oomblik kan verander. Vanoggend het ek as 'n miljoenêr wakker geword.”

“Ithuba se finansiële adviseurs bied advies aan alle wenners wat meer as R50 000 wen, asook ‘n span sielkundiges wat tyd met wenners bestee om hulle te help om die skok te verwerk van hoe hulle lewens gaan verander,” sê Ithuba se hoof-uitvoerende beampte, Charmaine Mabuza.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.