South Africa
KKNK se eerste jeugkunstefees bring jongmense bymekaar─── MORNÉ VAN ROOYEN 06:49 Sat, 04 Mar 2023
Die KKNK se allereerste Jeugkunstefees beloof ’n fees binne ’n fees waar hoërskoolleerders bymekaarkom om die kunste te ervaar met dans, drama, musiek, werksessies en gesprekke spesifiek vir hulle.
Nog 'n opwindende element van dié fees is die bekendstelling van aanlyn video’s deur professionele kunstenaars, wat bykomende hulpmiddels vir onderwys in die kunste bied.
KKNK artistieke direkteur Hugo Theart sê hulle bied van 1 tot 4 April ’n kyk-, luister-, voel- en ervaar-fees aan, gemik op hoërskoolleerders met ’n liefde vir die kunste.
Inhoud word saamgestel, sodat groepe ’n geleentheid kry om nie net die kunste buite die klaskamer te ervaar nie, maar ook professionele betrokkenes in die kunste te ontmoet en deel te neem aan gesprekke en werksessies.
Hierdie is ook ’n wonderlike geleentheid om jongmense aan die KKNK bekend te stel, want hulle is inderdaad die gehore van die toekoms.
