South Africa
Drie mans lank tronk toe vir aanval op boer van Addo─── 15:11 Wed, 28 Jun 2023
Vuyile Magwa (38), Kwanele Madasi (31) en Bulelani Mti (35) is in die streekhof in Gqeberha gevonnis nadat hulle in 2018 ’n boer van Elimdrift in Addo aangeval en beroof het.
Hulle is almal gevonnis tot tien jaar vir huisbraak met die opset om te roof, vyf jaar vir ontvoering en vyf jaar vir bedrog. Magwa en Madasi is tot 20 jaar gevonnis vir roof met verswarende omstandighede, terwyl Mti op dieselfde aanklag tot 15 jaar gevonnis is. Magwa is tot ’n bykomende 18 jaar gevonnis op aanklag van die onwettige besit van vuurwapens.
Hulle het die boer met ’n duvetoortreksel toegemaak en met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan. Hy het later sy bewussyn herwin en die mans wat opsoek was na sy kluis het vuurwapens gesteel en hom toe na die naburige plaas geneem.
Hier het hulle ook goedere gesteel en toe die boer na New Brighton geneem. Hulle het sy bankkaart en PIN gevat en die volgende dag daarmee inkopies by die Kenako-winkelsentrum gaan doen.
Die boer is vrygelaat en het sy voertuig teruggekry op voorwaarde dat hy nie ’n saak aanhangig sal maak nie. Die polisie het leidrade opgevolg wat hulle tot die drie mans gelei het.
NVG-mediaverklaring
