South Africa
13 sterf in botsing tussen vragmotor en SA bus in Zambië─── 10:43 Wed, 27 Dec 2023
Albei bestuurders is op slag dood en ses passasiers en vyf insittendes van die vragmotor is op die toneel dood verklaar.
’n Busbestuurder, ’n vragmotorbestuurder van Tanzanië en 11 passasiers is op Welwillendheidsdag in ’n botsing reg van voor in Zambië dood. Die ongeluk het omstreeks 11:00 in die Kalwa-omgewing plaasgevind – sowat 7 km noord van die Serenje-distrik.
SA Trucker berig op sy Facebookblad die Mkombe- luukse busdiens, ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy, het 57 passasiers van Suid-Afrika na Tanzanië vervoer. Die bus is deur ’n Suid-Afrikaner bestuur wat slegs as Thabo bekend staan.
Rae Hamoonga, polisiewoordvoerder in Zambië, sê die onbekende bestuurder van die vragmotor was besig om ’n ander voertuig onwettig verby te gaan toe die vragmotor reg van voor teen die bus gebots het. 
Dertien mense is in ’n ongeluk in Zambië dood. Foto: Facebook
Albei bestuurders is op slag dood terwyl ses passasiers en vyf insittendes van die vragmotor op die toneel dood verklaar is. Altesame 39 passasiers en twee insittendes van die vragmotor is met beserings in die hospitaal opgeneem, terwyl die ander passasiers nie beseer is nie.
“Al 13 oorledenes is in die Serenje-distrikshospitaal se lykshuis. Die owerhede is besig met die identifikasieproses, lykskouings en om begrafnisreëlings te tref, ” sê Hamoonga.
OFM Nuus dg
