On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

South Africa

Zim boer te perd na Windhoek oor onteiende plase in Suider-Afrika

───   14:12 Wed, 28 Feb 2024

Zim boer te perd na Windhoek oor onteiende plase in Suider-Afrika | News Article
Ben Freeth van Zimbabwe is op pad Windhoek toe. Foto: www.mikecampbellfoundation.com/blog

“Wanneer onreg heers, is dit net vernietiging en ondergang wat volg.”

’n Boer van Zimbabwe wat op 28 November verlede jaar ’n reis te perd na Namibië begin het om bewustheid oor onteiende plase te skep, is ná byna 2 000 km naby die einde van sy Long Ride for Justice.

Ben Freeth (52) is afhanklik van weldoeners langs sy roete om hom en sy perd water en kos te gee en sê op sy blog hy word oral oorval deur die goedhartigheid van Barmhartige Samaritane.

Ben Freeth met sy perd Tsedeq het in November met hul epiese tog in Zimbabwe begin. Foto: www.mikecampbellfoundation.com/blog

Freeth wil in Windhoek die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) vra om sy tribunaal te heropen en nuwe regters aan te stel. Dié tribunaal het 15 jaar gelede, op 28 November 2008, beslis die afgesette wit boere van Zimbabwe, waaronder Freeth, mag na hul plase terugkeer en verder boer.

Verskeie boere is geteiken en plase afgebrand

Netwerk24 berig oudpres. Robert Mugabe het egter die tribunaal ontbind. Verskeie boere is hierna geteiken en hul plase, woonhuise en oeste en plantasies is verbrand. Volgens Freeth het sowat 350 000 permanente plaaswerkers hul werk en behuising verloor.

“Ek steek die Okavangorivier oor met my muil vir die reis, wat ek Nikao genoem het.” Foto: mikecampbellfoundation.com/blog

Hy en sy perd, Tsedeq, het in November van sy Mount Carmel-plaas in Zimbabwe vertrek en sowat 800 km afgelê. In Botswana het hy sowat 400 km met ’n muil, Nikao, gereis maar “dié is terug Windhoek toe weens sy intense afkeer daarvan om alleen op die roete sonder ander perde te wees,” skryf Freeth op Facebook.

Welkome swem in die rivier ná 'n dag te perd. Foto: mikecampbellfoundation.com/blog

“In Grootfontein is daar tot my redding gekom met 'n wonderlike perd genaamd Stardust. Ek voel nederig deur die ongelooflike gasvrye ontvangs van die Namibiese mense.”

‘Ongelooflike gasvrye ontvangs in Namibië’

Hy skryf ook: “Ek het emosioneel geraak deur in die lig van die maan saam met die lied van die jakkalse te ry; en die trane het gevloei. God het vir ons trane gegee. Ek is so dankbaar vir elkeen van julle. Wat 'n wonderlike gemeenskap is julle nie.”

Freeth sê hy wil bewusmaking skep van die noodsaaklikheid om regters aan te stel sodat die SAOG-tribunaal kan voortgaan om te funksioneer soos dit moet. “Ons het individuele eiendomsreg en geregtigheid vir die byna 400 miljoen mense in Suider-Afrika nodig. Wanneer onreg heers, is dit net vernietiging en ondergang wat volg.”

Ben Freeth met Stardust, wat goedgunstiglik deur Namibiërs aan hom toegestaan is. Foto: Chahanic Stud and Safaris/Facebook

Die Giraffe Heroes Project berig Freeth en sy skoonpa, Mike Campbell, was ten tye van die gewelddadige plaasinvalle van die grootste mangoprodusente in Zimbabwe, saam met mielies, tabak en sonneblomme, en het meer as 500 plaaswerkers in diens gehad.

Deesdae boer hy en sy swaer, Bruce Campbell, op sowat 40 hektaar huurgrond terwyl sy vrou, Laura, ’n klein koekonderneming in Harare bedryf.

Lees meer oor Freeth en sy ervaringe op sy blog: www.mikecampbellfoundation.com/blog 

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.